Local sportSport

Pumas stel nuwe breier aan, Stonehouse wil dalk fluitjie wegberê

Laevelder het betroubaar verneem dat Brent Janse van Rensburg, wat die leisels by die Steval Pumabreier, MJ Mentz vanaf 1 November oorneem, nie met die Boland Rugby Unie oor sy besluit gekommunikeer het nie.

Janse van Rensburg het aan die begin van Januarie by die Boland aangesluit nadat hy eers by die Oostelike Provinsie betrokke was. Hy het ‘n driejaarkontrak met die Mpumalanga Rugby Unie (MRU) gesluit.

Daar was gerugte dat die voormalige Pumabreier, Jimmy Stonehouse, wat tans die Toshiba Brave Lupus in Japan afrig, sou terugkeer Laeveld toe. Stonehouse het gister aan Laevelder gesê dat dit tyd is om sy fluitjie te bêre en dat hy aan die einde van Oktober ‘n finale besluit gaan neem of hy wel in Japan gaan aanbly.

Jimmy Stonehouse saam met 'n voormalige Pumaspeler, Coenie van Wyk wat ook nou in Japan rugby speel.
Jimmy Stonehouse saam met ‘n voormalige Pumaspeler, Coenie van Wyk wat ook nou in Japan rugby speel.

“Ek mis my familie en my land. Daar is nie afrigtingsgeleenthede in Suid-Afrika nie en ek is ook nie bereid om weer by ‘n ‘klein’ unie af te rig nie,” het Stonehouse gesê.

Janse van Rensburg het vir die eerste keer in sewe jaar die Kavaliers gehelp om tot die Curriebekerpremierliga deur te dring. Die Boland het sewende op die punteleer, twee punte meer as die Pumas geeïndig.

In ‘n persverklaring wat die Boland uitgereik het, het Janse van Rensburg gesê dat hy baie trots op die groep spelers is en die unie voorspoed toegewens.

“Dankie vir die geleentheid om deel van die unie te kon wees. Ek voel dat ek die span op ‘n hoë noot verlaat en hulle het beslis sedert my aanstelling gegroei. Vanjaar sal ek nie sommer vergeet nie en dit het tot my groei as afrigter bygedra.”

Lees ook: Pumas groet twee van hulle helde

Pumaspelers wie se kontrake nie hernu gaan word nie, is die haker Francois du Toit en Johan Herbst.

Du Toit vertrek eersdaags na Spanje waar hy vir Barcelona RC gaan uitdraf. Herbst het in Mei sy boarmspier geskeur en is Julie geopereer. Daar is ‘n kontrak aan Marcello Sampson aangebied, maar hy het dit van die hand gewys.

Francois du Toit. Foto: Leon Niemand
Francois du Toit. Foto: Leon Niemand

Daar is gerugte dat Boland se kaptein, Ryan Nel ook by die Pumas gaan aansluit, maar spelerkontrakte word eers vandag bevestig. “Daar is ‘n paar spelers waarna ons kyk om te kontrakteer, maar dit word eers later vandag aangekondig,” het die besturende direkteur van MRU, Pieter Burger gesê.

Lees ook: Pumas onseker of Steval nog borg gaan wees

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button