Swemklubs gerat vir die seisoen
Plaaslike atlete van Curro Swem Akademie (CSA), Uniswim Nelspruit en Nelspruit Swem Akademie (NSA) was die afgelope naweek tydens die Grand Prix-reeks wéér die suksesstorie van Mpumalanga Swem.
“Ten spyte van ‘n reënerige naweek, het die gala goed verloop. Aangesien dit nog vroeg in die jaar is, het die swemmers nie by hulle persoonlike beste tye uitgekom nie, maar dit was goeie voorbereiding vir die opkomende galas later in die jaar,” het die gala-organiseerder van Mpumalanga Swem, Cecelia Briggs gesê.
Uniswim se Jordyn Minifie het in die 800-metervryslag 13 sekondes op haar tyd sedert die Mpumalanga-kampioenskappe in Desember afgeknip. Haar tyd van 09:43,48 is net twee sekondes onder die kwalifiserende tyd vir die Suid-Afrikaanse Jeugkampioenskappe.
Lees ook: Swimming champs deliver amazing performance
Dié 15-jarige het in die 400-metervryslag ‘n 04:37 geswem, wat haar agt sekondes onder die SA Jeugkampioenskappe se kwalifiserende tyd plaas.
Die kampioenskappe word in April by Kingspark in Durban gehou.
Brooklyn Croxon (Uniswim) het haar persoonlike beste tye in onderskeidelik die 100-meterborsslag, 50-metervryslag en 100-metervryslag met ‘n paar sekondes gemis. Sy het ‘n 01:22 (100-meterborsslag), ‘n 29,04 (50-metervryslag) en ‘n 01:04 in die 100-metervrysslag geswem.
Lees ook: Swemsensasie deel sy kennis met ander
Mpumalanga Swem se swemmer van die jaar, Liza-Mari Drummond (Uniswim), het ‘n eerste plek in die 50-metervryslag met ‘n tyd van 27,76 geswem en in die 100-metervryslag het sy ‘n 01:01 geswem – haar persoonlike beste tyd in die item is 59,9 sekondes. Robbie Drummond (Uniswim) het in dié klas ook net kort van sy persoonlike beste (59,00) aan die kant geraak en sy tyd in die 50-metervryslag was 27,5 sekondes.
Die blondekoppie, Kayla Schefermann (Uniswim) se tyd in die 200-meterborsslag van 02:51 was 0,4 sekondes van haar beste tyd af.
“Daar lê vir die swemmers baie harde werk na afloop van die Desembervakansie voor. Ons het net ‘n paar maande oor om hulle vir die nasionale galas voor te berei,” het die afrigter van Uniswim, Jasper Venter gesê.
Curro Swem Akademie se topvlakdrie-swemmer van 2016, Carla Mouton het van die 200-meterborsslag weens ‘n heupkwaal onttrek, maar sy het ‘n goeie tyd in die 100-meterborsslag op die eerste dag van 01:25,84 geswem. Haar spanmaat, Gerard Venter het die stophorlosie op 01:04,68 in die 100-metervryslag, op 01:13,52 in die 100-meterrugslag en op 02:27,02 in die 200-metervryslag gestop.
“Ek is baie tevrede met hoe Gerard en Carla die naweek geswem het in ag genome dat hulle op ‘n skoolkamp was en na afloop van hulle items op die eerste dag terug is kamp toe. Hulle albei het hulleself goed van hul taak gekwyt,” het die afrigter van CSA, Karlien van Heerden gesê.
NSA het vyf verteenwoordigers oor die twee dae gehad. Dylan Boshoff, Giano dos Santos, Jimmy Munro, Skye Munro en Jetro Piso was onder die 15 plaaslike swemmers wat vir die vlakdrie-kampioenskappe in Maart gekwalifiseer het.
Lees ook: Laeveldse swemmers toon hulle slag in Port Elizabeth
Jetro het ‘n derde plek in die 100-metervryslag met ‘n tyd van 55,27 behaal terwyl hy ook in die 50-meterborsslag, 50-metervlinderslag, 200-metervrysslag, 100-metervlinderslag en 50-metervryslag goeie tye geswem het.
Afrigter van NSA, Gideon du Toit is tevrede met sy swemmers se tye.
“Ons het eers die derde Januarie weer volstoom begin oefen, maar die swemmers se tye lyk goed. Die deelneemers het die gala baie geniet,” het Du Toit gesê.
Die 24-jarige Mel Stronkhorst van Komatipoort Swem Akademie se 2017-jaar lyk ook belowend met goeie tye in die 50-meterborsslag, 50-metervlinderslag, 100-meterborsslag en 50-metervryslag.







