Local sportSport

Golfers wys hulle steun vir Go Purple se geveg teen mishandeling

Gholfspelers het ‘n gesellige dag by die Malelane Golfklub deurgebring om bewustheid van en fondse vir 'n plaaslike liefdadigheidsorganisasie, Go Purple Malelane, te bevorder en in te samel.

Plaaslike gholfspelers het hul ondersteuning aan die stryd teen geweld teen vroue en kinders verleen deur ‘n fondsinsamelingsgholfdag vir Go Purple verlede Saterdag.

Die geleentheid by die Malelane Gholfklub is deur Pam Golding en ‘n lang lys ander plaaslike sakeondernemings moontlik gemaak.

Behalwe die lekker sonnige weer, het die watergate, wat deur verskeie borge behartig is, gesorg dat die spelers se kele nat en hulle gemoedere vrolik bly.

Go Purple Malelane staan slagoffers van mishandeling by en leer hulle om die lewe ná so ‘n tragedie te vier. Die stigter, Amanda de Swardt met haar pers hare en klerekas, is reeds ‘n bekende gesig in Malelane en behartig nou al vir byna ‘n jaar en ‘n half lank die slagofferbemagtigingsentrum by die plaaslike polisiestasie. Sy is ook betrokke by talle liefdadigheidsprojekte en bewusmakingsveldtogte in die omgewing.

LEES: Vrou in pers help om slagoffers te bemagtig

Sy is tydens die geleentheid vir haar harde werk bedank en staande deur die gholfspelers toegejuig.

Waardering is ook teenoor al die borge uitgespreek vir hulle belangrike aandeel in die sukses van die dag deur bydraes, watergatstalletjies en selfs fondsinsameling op die baan.

Spelers het teen skemer vir ‘n vingerete en die prysuitdeling by die klubhuis uitgespan.

Richard Scholtz en Samuel Lukhele is vir naaste aan die pen beloon, terwyl Lucia Mhlabane en Ricky Coetzee die langste dryfhoue geslaan het.

Samuel Lukhele en Lawrence Masiya was in die eerste plek met 84 punte. Richard Bence en Christine Davis tweede met 80 punte, Alfred Mabaso en Lucia Mhlabane derde met 73, Piet Hatting en Hannes Herbst vierde met 73 punte, Louis en Leonard vyfde met 71 punte en Hennie Snyman en Piet du Preez in sesde plek met 71 punte.

READ: Golfers gather from all corners to compete in the Lalapalm

Daarna kon ‘n paar ander spelers in ‘n gelukkige trekking ook met pryse wegstap en is ‘n oulike gholfbalkoek deur Cherry on Top, asook twee bottels wyn opgeveil om nog fondse vir Go Purple in te samel.

Vir meer inligting oor Go Purple Malelane en hul bedrywighede, skakel Amanda de Swardt by 072-371-8993.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button