Laevelders gee voorsmakie van wat nog voorlê
Hoërskool Rob Ferreira en Hoërskool Nelspruit se spanne het die Laeveld se naam hoog gehou by die jaarlikse Elardus Erasmus Top 20-atletiekbyeenkoms verlede week.
Die jaarlikse Elardus Erasmus Top 20-atletiekbyeenkoms het verlede naweek, oudergewoonte op Mookgophong, Limpopo plaasgevind.
Altesaam 43 meisie- en 47 seunspanne van vyf provinsies het vanjaar meegeding, wat dié byeenkoms steeds een van die grootstes van sy soort in die land maak.
Hoërskool Rob Ferreira en Hoërskool Nelspruit se spanne het die Laeveld se naam hoog gehou in die waardevolle geleenthied wat dien om die atlete vir die komende seisoen te slyp.
Lees meer: Twee atlete van NHS deel van wêreld se top-10

Ander sterk skole van Mpumalanga wat deelgeneem het, was Hoërskool Hoogenhout, Hoërskool Ligbron, Hoërskool Secunda en die Hoër Tegniese Skool Witbank.
NHS se meisiespan het algeheel 19de geëindig en die seunspan 22ste. Shana Scott het ‘n skitterende werpskyfrekord van 33,82 meter opgestel en het ook baie goed gedoen met ‘n gewigstoot-afstand van 11,35.
Die seunspan van Rob Ferreira het die beste van al die Mpumalanga-skole gevaar met Thulani Lekhuleni wat die eerste plek in die 800 meter en 1 500 meter vir o/19 seuns behaal het.
Lees meer: Witrivier buig in doodsnikke die knie teen Middelburg

Die meisiespan het die 25ste plek behaal en verskeie atlete het persoonlike beste seisoenprestasies aangeteken.
Nadat Hoërskool Rob Ferreira vanjaar die Bethal Top 10-byeenkoms vir mediumskole gewen het, was die Top 20 een van die skool se beste atletiekprestasies nog.
Twee van NHS se nasionale kampioene van 2017, Nerina Visser en Naas Marais, het ook stewige vertonings gelewer. Nerina se tyd in die 400 meter-hekkies was 66,56 sekondes, terwyl Naas die 1,75kg-werpskyf 48,01 meter ver gegooi het.
Lees meer: Die gróót atletiek het uiteindelik aangebreek
Die atletiekspan van NHS is tans besig om voor te berei vir die strawwe Top 30-byeenkoms op Potchefstroom, terwyl die span van Rob Ferreira skouer aan die wiel sit ter voorbereiding vir die Marius Lengton-gedenkbyeenkoms by Hoërskool Tom Naudé.
Laeveldse atlete kan dan uitsien na die afsluiting van die voorseisoen by the bekende Triple J-atletiekbyeenkoms wat die eerste naweek van November by Hoërskool Rob Fereirra sal plaasvind.
Die prestasies van dié plaaslike skole het inderdaad getoon dat daar gewis weer na puik vertonings in die nuwe seisoen, uitgesien kan word.
