Twee atlete van NHS deel van wêreld se top-10
Huidige Suid-Afrikaanse skyfwerpkampioen van Hoërskool Nelspruit (NHS), Naas Marais lê vierde op die Internasionale Atletiek Federasie (IAAF) se wêreldranglys.

Europa se Georgios Koniarakis beklee die eerste plek met ‘n afstand van 63,96m.
Marais het ‘n nuwe persoonlike beste van 61,58m in September by die Laeveld-ope opgestel.
Nasionale spiesgooi-kampioen, ook van NHS, Werner Bouwer is in die agtste-plek vir o/20-mans op die IAAF-rangleer. Tydens die ASA-seniorkampioenskappe het Bouwer die spies 68,54m in die lug laat trek, maar die afstand met byna 10m by die afgelope naweek se Elardus Erasmus Top 20-byeenkoms, verbeter en spog nou met ‘n nuwe persoonlike beste van 75,91m.
Lees ook: Nellie-atleet gaan van glorie tot glorie

Atletiekspesialis van NHS en die twee atlete se afrigter, DP Badenhorst het sedert hy begin afrig het, nog nie ‘n atleet onder die top-10 opgelewer nie.
“Harde werk en deursettingsvermoë in tye wat tegniek nie wou regkom nie, doelgerigte oefeninge en toevertrouing is vir albei die sleutel tot hulle sukses. Om sukses in atletiek te haal, is ‘n proses wat oor ‘n tydperk plaasvind en ek is die gelukkige een wat die voorreg het om deel van hulle proses te kan wees,” het Badenhorst gesê.
Bouwer, wat die eerste Laevelder geword het om 70m te oorskry, plaas hom ook in die nommer twee-posisie vir o/19-seuns, asook sesde op die nasionale ranglys vir senior mans in Suid-Afrika.

Texas Tech Universiteit in Amerika het hom ‘n volle beurs aangebied. Spiesgooi-afrigter van die universiteit, Cliff Felkins het vanjaar ‘n spiesgooier na die 2016 Rio Olimpiese Spele gestuur.
Lees ook: Nellies se spiesgooiers presteer
“My droom is voor die einde van 2017, oor die 80m te gooi om te kwalifiseer vir die Statebond Spele wat in 2018 in Australië plaasvind. Ek gaan hard moet werk vir die 2020 Olimpiese Spele in Japan waar ek ten minste 85m wil gooi. My held, Jan Zelezny se rekord van 98,48m is in my agterkop en dit is my langtermyn-doelwit om ook daardie afstand te gooi. Dit is alles te danke aan DP en alle eer aan God,” het Bouwer gesê.
Sy ouers is geweldig trots op hulle seun se wonderlike prestasies.
“Dit was baie jare se harde werk wat gelei het tot hierdie oomblik. Ons is ook baie dankbaar vir ‘n wonderlike afrigter soos DP wat vir Werner oor die jare gelei en gehelp het. Ons sien baie uit na wat die toekoms vir hom inhou,” het sy pa, Louis en ma, Fransie gesê.

