Nou ken skeidsregters hulle ding
'n Groep uitgesoekte fluitjieblasers van die Puma-skeidsregtersvereniging het die afgelope naweek 'n opknappingskamp vir super- en eersteligaskeidsregters bygewoon.

Strawwe fiksheidsoefeninge en sessies in die klaskamer oor nuwe rugbyreëls was aan die orde van die dag.
Die Laeveld is deur Gavin Wessels en Sarel du Toit verteenwoordig en altesaam 44 skeidsregters van regoor die provinsie was op die kamp. Een van Suid-Afrika se mees gerekende fluitjieblasers, André Watson en twee verteenwoordigers van die Suid-Afrikaanse Skeidsregtersvereniging, Eugene Daniels en Eugene de Villiers was die aanbieders.
“Daar is ‘n hele paar nuwe reëls wat hierdie seisoen in werking gestel gaan word. Ou reëls, veral dié wat in die verlede nie konsekwent toegepas is nie, is ook bespreek. Die kamp was baie suksesvol. Die aanbieding en deelname was van topgehalte,” het provinsiale rugbyskeidsregterskoördineerder van die Pumas, Oubaas Coetzer gesê.
Hy beplan om in April ‘n soortgelyke kamp vir juniors te hou.


