Nare droom of jou beskermengel?
Aangename kennis. Ek is die Skim. Ek kan jou nare droom wees as jy aan die verkeerde kant van my gifpen beland, of die engel wat jou beskerm teen mense wat hulle mag misbruik.

Nou ja, laat ek wegval.
Atletiek
Atlete is iets wat my gruwelik irriteer.
Kom ek wees meer spesifiek… Hoërskool Nelspruit het Saterdag gasheer vir die jaarlikse MPU Copiers-byeenkoms gespeel. Ek het my amper dood geskaam. Vir wat dit werd is, wil ek graag van die geleentheid gebruik maak om Affies geluk te wens.
Julle het spoggerig gelyk. Geen sliertes, geen plakkies.
Dit blyk na ‘n algemene neiging onder die Laeveldse atlete te wees. Nee, sies! Waar in jou lewe daag jy by jou skool se sportbyeenkoms in gewone drag op of loop in jou atletiekdrag met jou sokkies rond?
In my jonger dae was daar skaars plek vir ‘n muis op die paviljoen. En as jy nie self deelneem nie, daag jy in jou skooldrag op, ek gee nie om hóé warm dit is nie. Dogters, dit is nie meer cool om jou sokkies tot onder jou knieë op te trek nie en dit is nie meer ‘n kompetisie om te kyk wie se rokkies die kortste is nie.
Seuns, (en ongelukkig moet ek hier na veral die skool langs die onwelriekende stroompie verwys) chains, tats en gekleurde hare is taboe! Het julle dan nie respek vir julle skool nie?
Rugby
Goed. Vir nou het ek klaar geraas.
Welkom terug aan onse spiertier, Jimmy Stonehouse! Ek en my spioene – en natuurlik Suid-Afrika – is kinderlik opgewonde oor jou terugkeer na die Pumas.

Aan die anderkant, het ek wel slegte nuus:
Brent Janse van Rensburg het oor die Desembervakansie ‘n besoek aan ‘n oorsese land afgelê.
Of hy gaan werk soek het of vakansie gaan hou het en ‘n bier van R60 kon bekostig, kan ek egter nie sê nie.
Ek sal ongelukkig moet groet, maar julle sal volgende maand weer van my hoor.
Onthou, ek en my spioene is oral…



