Shanese is sterker en beter
Nellies se goue atleet, Shanese de Clerck, het drie rekords agter haar naam geskryf. Sy is ook as die senior victrix ludorum gekroon.
Vaughn van Zyl het Vrydag tydens die AON Laerskool Nelspruit-interhuisbyeenkoms ‘n 15-jaar oue
rekord verpletter.
Christoff Gouws het in 2003 ‘n afstand van 9,74m vir seuns o/10-gewigstoot vasgepen, maar Vaughn het die afstand uitgevee en spog nou met ‘n afstand van 11,30m.
Shanese het Anje Nel se afstand in die hoogspring van 1,54m na 1,55 verbeter en sy het net-net die 5m-merk in die verspringput gemis met ‘n afstand van 4,93m.

Larise Combrink het verlede jaar die 100m in 13,72 voltooi. Dié tyd is egter ook deur Shanese verbeter toe sy die stophorlosie op 13,56 gestop het.
Die room van Suid-Afrika se laerskoolatlete het Saterdag aan die top-20-byeenkoms by Ruimsig, Johannesburg deelgeneem.
Hier het Shanese goud in hoogspring verower met ‘n rekordafstand van 1,61m. Sy het ‘n silwermedalje in verspring behaal met ‘n afstand van 5,07m.
Kiara Craven het goud vir o/11-hoogspring met ‘n hoogte van 1,38m behaal – dit is ook ‘n nuwe rekord.
Ashley Erasmus, wat nou eers o/12 is, het ‘n eerste plek in gewigstoot vir dogters o/13 met ‘n afstand van 12, 91m ingeneem.


