Local sportSport

Anje Nel sorg vir NHS se beste vertoning

Om finale kompetisie-afronding vir die komende twee interhoërbyeenkomste teen gedugte atletiekskole soos Affies, Waterkloof en Kempton Park te kry, was presies wat NHS se ewe gedugte span onlangs by Waterkloof nodig gehad het. 

Al was daar sekerlik ‘n atleet of vyf wat, om moontlike beserings op hierdie laat stadium te vermy, nie op alle silinders gevuur het nie, wys die talle uitstaande vertonings dat die Laevelders desondanks moes uithaal om podiumplekke te verwerf.

Al het Affies die byeenkoms gewen, met Waterkloof in tweede plek, kan NHS trots wees op sy atlete wat ‘n erkende atletiekkrag soos Kempton Park met 969 punte teenoor 952 die loef afgesteek het.

Nadat sy vele byeenkomste weens ‘n besering misgeloop het, het die 14-jarige Anje Nel vir die beste Nellie-vertoning van die dag gesorg, toe sy op ‘n pragtige hoogte van 1,55 m in die hoogspring (o/14) oor die dwarslat geseil het – ‘n volle 955 ABSA-punte werd. Rhodé Nel (o/15) het in twee items (200 m – 25,66 en 400 m – 58,72) ook verby die 900-puntekerf geskuif.

Larise Combrink (o/14) se 5,03 m in verspring was 918 punte werd, terwyl Lané Taljaard met haar 1,55 m in die hoogspring o/15 vir 905 punte gesorg het. Onder die seuns kon net Douw Kruger (o/16) meer as 900 punte haal toe hy die 5 kg-gewig op ‘n baie goeie 15,93 m laat grondvat (934 punte).

‘n Stokou aflosrekord wat 36 jaar lank vele aanslae oorleef het, het in die stof gebyt toe NHS se puik aflosspan vir meisies o/15, die 4×100 m in ‘n skitterende 50,47 voltooi het (907 punte werd).

Aubrey van der Bank (o/17) het by ‘n klein, eksklusiewe “klub” aangesluit toe hy net een van ‘n handjievol Nellies kon word wat die 700 g-spies verder as 60 m kon gooi. Sy gooi van 60,52 m plaas hom in die geselskap van groot name soos Werner Bouwer, Stefan Smit, Stefan van der Bank, Dewald Nel, Jannie Smal, Hanco Terblanché en Werner Kok, huidige Springbok 7’s-rugbyspeler, wat die prestasie in 2010 vermag het.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Check Also
Close
Back to top button