Groot pret vir dié klein lyfies op atletiekveld
Glimlaggies van oor tot oor was aan die orde van die dag, terwyl die kannetjies hulle slag gewys het in besemstokgooi, klipgooi, toutrek, hoogspring, 'n hindernisbaan, driewiellangafstande, hekkies en naellope, om maar net 'n paar te noem.
Laerskool Nelspruit se Nellie Miere het Vrydag hulle jaarlikse pretdag met talle weergawes van die ware Jakob van die atletiekitems, gehou. Glimlaggies van oor tot oor was aan die orde van die dag, terwyl die kannetjies hulle slag gewys het in besemstokgooi, klipgooi, toutrek, hoogspring, ‘n hindernisbaan, driewiellangafstande, hekkies en naellope, om maar net ‘n paar te noem.
Die miertjies het ook aan boontjiesakgooi en verspring deelgeneem wat later meer in ‘n kasteelbousessie in die sandput ontaard het. “Die glimlaggies het bewys dat die ware doel van sport bereik is. Dit moet beoefen word om geniet te word, om gesonde liggame te huisves en om vriendskappe te bou,” het die skakel- en bemarkingsbeampte van Laerskool Nelspruit, Johan Orton gesê. Hy het vertel dat dit aan die einde van die dag ‘n dag van pret en plesier was vir die kinders en ouers, wat soms ‘n handjie moes bysit by van die items. “Dit is jaarliks een van die lekkerste dae op ons skoolkalender. Ons wil graag elke ouer, kind en al die borge van die geleentheid bedank vir die goeie gesindheid waarin alles plaasgevind het. Ons sien met groot verwagting uit na volgende jaar se byeenkoms.”








