Challengers steek Midfeeds die loef af
Die kragmeting is Donderdagaand in die Nelspruit Action Arena beslis.
Die Midfeeds-aksiekrieketspan het verlede week in die eindstryd van die B-afdeling die knie voor die Challengers moes gebuig.
Die kragmeting is Donderdagaand in die Nelspruit Action Arena beslis. Slegs twee lopies het die koring van die kaf geskei, met die Challengers se 77 lopies na 16 boulbeurte wat genoeg was om vir hulle ‘n oorwinning te verseker. Dit het egter nie in hulle skoot geval nie. Daarvoor het Midfeeds se staatmakers soos Albert Oberholzer en Arno Gie gesorg.
Arenabestuurder Braam Oosthuizen is van mening dat dié wedstryd aan al die verwagtinge van ‘n eindstryd voldoen
het, met goeie houdings en gesonde mededinging wat aan die orde van die dag was.
In die C-afdeling was die gaping tussen die Die Honde en BIAMI, egter heelwat groter. Die Honde het daarin geslaag om die kragmeting met 13 lopies te beklink.
In die D-afdeling het die Teazers nie op alle silinders gevuur nie en die Benchwarmers se weg na ‘n oorwinning was gebaan. Hulle het dié wedstryd is met 56 lopies gewen.
Die tellings vir die goudfinaal was:
B-afdeling: Challengers 77 – Midfeeds 75
C-afdeling: Die Honde 114 – BIAMI 101
D-afdeling: Benchwarmers 151 – Teazers 95.








