Groot dinge wag op Lourens Erasmus
Harde werk en dissipline - dit is Lourens se wenresep.
Plaaslike stoeier, Lourens Erasmus van Nelspruit Stoeiklub (NSK) staan ‘n goeie kans om binne die volgende twee jaar op internasionale vlak naam te maak. So het sy afrigter Hansie Kruger gesê.
“As hy volhard, dan voorsien ek dat hy ‘n goeie kans staan om goud te wen by die 2020 Afrika-kampioenskappe.”
Die 15-jarige het ‘n bronsmedalje in grieks-romynse (GR) stoei by die Afrika-kampioenskappe in Port Harcourt, Nigerië verower.
Lees ook: Kankervegter stap pad saam met ander

Hy het ook die afgelope naweek, goue medaljes in albei GR en rofstoei by die Mpumalanga Ope Stoei-kampioenskappe in Middelburg verower.
As ‘n leerling van Hoërskool Nelspruit, ding hy tans as o/15 mee, maar stoei ook van tyd tot tyd met spesiale toestemming in die o/17-kategorie.
Volgens hom het hy eintlik begin stoei om sy rug, nek en enkels vir rugby te versterk toe hy 10 jaar oud was.
Maar hy het toe vinnig besef dat stoei meer bied as net gesonde oefeninge en kondisionering vir sy ontwikkelende spiere.
Lees ook: Case of arson not investigated as yet after fire at Crown National

“In die begin was ek eintlik net daar om sterker te word en my liggamente te versterk, maar toe ek eers aan die gang kom, toe besef ek stoei is eintlik baie lekker,” het hy gesê oor sy liefde vir die sport.
“Stoei het toe heeltemal deel van my lewe geword.”
Hy het binne vyf jaar se tyd sy pa en broer ook so ver gekry om die stoeimat weekliks saam met hom te betree.
As sportman, verkies Lourens die samehorigheid van spansporte, maar hy sê wel dat daar min dinge so opwindend is as om alleen in ‘n opponent se oë te kyk.
“As jy eers op daai mat staan en jy moet stoei, dan besef jy dat daar niemand anders is om te help nie. Dis net jy, jou krag en my opposisie. Ek geniet dit regtig.”
As ‘n korter stoeier wat teen nie net langer en groter opponente stoei nie, maar ook as o/15 in die o/17-klas meeding, sê Lourens dat hy al gewoond daaraan geraak het om soos Dawid, sy teësanders se swak plekke te identifiseer.
Lees ook: Second drone user does not get life ban
“Dit is niks nuuts vir my om teen stoeiers wat twee koppe langer as ek is te stoei nie. Ek laat my nie onder kry nie,” het hy gesê.
Hoewel Lourens ‘n kranige sportman is wat ook ander sportsoorte beoefen, spandeer hy meeste middae in die gimnasium of saam met sy afrigter, Kruger.
“As stoeier het Lourens ongelooflike potensiaal. Hy ding as jong seun mee teen stoeiers wat aansienlik groter is as hy en staan sy man. Met harde werk, lyk sy toekoms blink,” het Kruger gesê.
