Hengelklub vier die jaar se grootste vangste
Die Dumezulu Hengelklub het tydens hul jaarlikse prysuitdeling 2017 se suksesvolste hengelaars met trofeë en hope pryse beloon.
Die Dumezulu Hengelklub het verlede Saterdag-aand hulle liefde vir hengel en lede se prestasies van die jaar gevier.
Die geselligheid en prysuitdeling is by die Malelane Rugbyklub gehou en daar is hope pryse en talle trofeë oorhandig.
Dylan Veldsman het tot sy verbasing, vier toekennings ingekatrol. Hy het die swaarste sak van drie spesies gehad, asook die swaarste tiervis (0,5 kg), swartbaars (0,87 kg) en baber (7,71 kg).

Gert Barnard was in die tweede plek met die swaarste sak van drie spesies en het die swaarste kurper (0,83 kg) gevang.

Schalk van der Merwe het die swaarste karp (4,61 kg) uitgetrek.

Carlos Veiga was die klub se algehele wenner, het die derde swaarste swartbaars (0,72 kg) gevang en was derde met die swaarste sak van drie spesies.
Sy seun Sergio was in die algehele tweede plek en het die tweede swaarste kurper (0,74 kg) ingekatrol.

Reyno Gower was derde en het die tweede swaarste baber (5,28 kg) gevang.

Voorsitter Ferdie Veldsman het die tweede swaarste swartbaars (0,76 kg) en derde swaarste baber (5 kg) gevang.
Willie Enslin het die tweede swaarste karp (1,93 kg) uitgetrek en Douw Grobler, die derde swaarste kurper (0,72 kg).
Die klub het in 2004 ontstaan nadat plaaslike hengelaars begin sukkel het om visvangplekke te kry. Hulle het besluit dat dit dalk makliker sal wees om grondeienaars as organisasie met streng reëls en regulasies te benader. Die klub poog om ‘n dam in ‘n beter toestand te laat as wat hulle dit gekry het.
LEES: Anglers compete to hook the heaviest bass
‘n Hele paar boere is die klub goedgesind en laat lede toe om hul damme gebruik. Plaaslike besighede ondersteun dit ook deur borgskappe.
Die ledetal en kompetisiedeelnemers wissel tussen 15 en 50, met sowat 10 lede wat vanaf die stigting al lede is. Baie kinders was ook deel van die klub en het deur die jare hul hengelvaardighede geslyp. Juniors, seniors en dames neem tans in een kategorie deel.
Die klub vang hoofsaaklik spesies wat in die Onderberg voorkom soos kurper, baber, tiervis en karp, met ‘n spesiale fokus op swartbaars.
Daar word elke maand ‘n amptelike kompetisie gehou, waar deelnemers vir punte hengel. Wanneer ‘n kompetisie nie by ‘n plaaslike dam gehou word nie, gaan kamp die klublede en hul gesinne by ‘n dam elders (soos Primkop of Chrissiesmeer) en kuier sommer na die kompetisie saam vir die naweek. Sommige hengelaars neem ook onder die klub se vaandel aan ander kompetisies regoor die land deel.
