Vermaak tot Oktober 2019 geteken
Direkteur van rugby by die Pumas, Jimmy Stonehouse het die Leeus se veelsydige agterspeler, Johann "Boeta" Vermaak vir sy span gewerf.

Dié 22-jarige het aan die begin van die jaar vir ‘n Amerikaanse span, Tiger Rugby uitgedraf. Daar het hy die geleentheid gekry om in ‘n internasionale sewestoernooi in Las Vegas te speel.
Vermaak, wat drie jaar by die Leeus se junior spanne betrokke was, se droom was om in Suid-Afrika te bly om rugby te kan speel.
“Die Pumas is ‘n uitstekende unie en het wêreldklasafrigters. Ek sien uit na my toekoms by hulle en sal ewig dankbaar vir die geleentheid wees.”

Hy is ook gekies om die Amerikaanse klub in Hong Kong te verteenwoordig, maar het die aanbod van die hand gewys nadat die Pumas hom Laeveld toe gelok het.
Stonehouse sê dat hy Vermaak al ‘n geruime tyd dophou.
“Hy het internasionale ondervinding wat baie waarde tot die span kan voeg. Boeta het spogrugby by die Leeus gespeel.”
