Die wintersportligas skop na vakansie af
Laerskole se wintersportseisoen het afgeskop met 'n byeenkoms tussen vier plaaslike skole en besoekende spanne van Phalaborwa, Tzaneen en Goedehoop.

Die naweek se program is Vrydag op laerskole Laeveld en Nelspruit se velde ingelui met vriendskaplike netbal- en rugbywedstryde.
Volgens Sonja Holtzhausen van Laeveld was die doel van die tweedaagse byeenkoms om die plaaslike skole die geleentheid te bied om hul spanne vir die komende wintersportligas wat in April begin, voor te berei.
Lees ook: Action-packed schoolboy rugby thrills at stadium

“Al die wedstryde was vriendskaplik en daar is nie formele tellings gehou nie, want ons wou die plaaslike afrigters die geleentheid gee om hul spanne se kragte teen mekaar te meet,” het Holtzhausen gesê.
Sy het bygevoeg dat die kragmetings ook gebruik is om die sterkste spelers vir die komende ligawedstryde te identifiseer.
“Dit was ‘n spanpoging tussen laerskole Laeveld, Bergland, Nelspruit en Witrivier wat elk gehelp het om die naweek se program te verwesenlik,” het Holtzhausen gesê oor die feit dat daar op elk van hierdie skole se velde gespeel is.
Lees ook: NRC reveal new jerseys

Johan Orton, bemarkings- en media-bestuurder by Nellies het gesê dat hoewel die skool se rugby- en netbalspanne gemengde uitslae behaal het, die naweek se verrigtinge beslis ‘n groot rol in hulle voorbereiding vir die seisoen, gespeel het.
“Alle betrokke spanne het waardevolle lesse geleer wat hulle vorentoe goed sal kan toepas,” het hy gesê.
“Ons wil graag die plaaslike gasheerskole, afrigters en spanbestuurders bedank vir hul harde werk die afgelope naweek en ons sien uit na ‘n goeie wintersportseisoen,” het Holtzhausen gesê.
Lees ook: Shanese en Ashley mik vir goud





