‘n Driekuns vir Phil-Mar, eindig tweede in Paarl
Die Laeveld se Statebondspele-atleet, Phil-Mar van Rensburg (27) is vir die derde agtereenvolgende jaar as die land se senior spiesgooikampioen gekroon.
Van Rensburg, wat deel is van die Suid-Afrikaanse span wat volgende week na Australië se Goue Kus vertrek, het verlede week op LC de Villiers ‘n 76 m gegooi.
Dié produk van Hoërskool Nelspruit (NHS) se atletiekspesialis, DP Badenhorst het verlede jaar met ‘n afstand van 79,86 m ook die goue medalje verower.
Hoewel dit nie sy byeen-komsbeste was nie, moet daar in ag geneem word dat dit sy eerste byeenkoms vir 2018 was.
Dié 27-jarige het gister aan die derde been van die Grand Prix-reeks, wat in die Paarl beslis is, deelgeneem – sy laaste byeenkoms voordat hy 1 April op die vliegtuig klim.
Hy het ‘n tweede plek met ‘n afstand van 74 m.
“Die wind het ons weggewaai. Dit was nie ‘n goeie aand vir spiesgooi nie, maar nietemin het ek nie sleg onder die omstandighede gevaar nie,” het Van Rensburg gesê.
Die spiesgooi-uitdunne is 13 April en hopelik kan Van Rensburg met ‘n reusegooi die volgende dag in die finale in aksie wees.

