NHS soek wéér ‘n podiumplek
Hoërskool Nelspruit se senior tennisspan het na afloop van die Menlo gemengde toernooi weer eens gewys dat hulle saam met die land se groot honde kan blaf.

Dié span het ‘n tweede plek behaal nadat hulle in die eindstryd teen Die Hoërskool Menlopark met 7-5 die knie moes buig.
In die aanloop tot die eindstryd, het NHS al vyf hul groepwedstryde gewen. Na die enkelpotte, was NHS 6-2 af.
Die o/15’s se Ruben Grundlingh, Ruben le Roux, Ruan Pretorius, Hugo Coetzer, Wikus van Biljon, Eunice Lubbe, Mia Gunter, Tammy Fourie, Monia Coetzer en Ilse Coetser het derde geëindig.

Die Tuks-skolereeks, waar van die land se top-10 sportskole deelneem, het reeds verlede week afgeskop. NHS se senior tennisspan het in 2017 ‘n algehele tweede plek behaal. Die spanne sal vanjaar tussen 23 en 25 April op LC de Villiers weer vir die eerste drie plekke veg.
“Menlo (een van die deelnemende skole) het sterk spanne wat hulle sal stuur, maar ons beoog om weer in die top-drie te eindig. Dit gaan nie ‘n maklike taak wees nie, maar die spelers glo in hulself om dit te vermag,” het tennisvoog van NHS, Sybrand Viviers gesê.
Sedert die voormalige tennis-afrigter van Hoërskool Ermelo, Petrus Schoeman in Augustus by NHS as tennisspesialis aangesluit het, kan daar gesê word dat NHS van hier af net nog sterker en beter kan word.

Schoeman was vir ses maande by die Steve Smith-akademie in Amerika betrokke.
NHS spog vanjaar met sewe provinsiale tennisspelers – drie meer as in 2017.
Die senior spelers wat by die Menlo gemengde toernooi in aksie was:
Michelle Boshoff, Lize van Biljon, Clarissa Boshoff, Ané van Vuuren, Megan Fourie en Danika Grundlingh.
NHS se provinsiale verteenwoordigers:
Japie Lubbe, Ruben Grundlingh, Eunice Lubbe, Michelle Boshoff, Lize van Biljon, Clarissa Boshoff (nie-spelende reserwe) en Ruben le Roux (nie-spelende reserwe).
Foto’s: Hennie Homann / www.hhphotoxpress.co.za

