NKK verdedig hul titel as provinsie se beste
Die Mpumalanga-krieketliga se trofee staan vir die tweede agtereenvolgende jaar in Nelspruit Krieketklub (NKK) se spogkas.

NKK het Saterdag in die eindstryd teen Middelburg te staan gekom en met sewe paaltjies geseëvier.
Dié kragmeting het op Nelspruit se tuisveld by Hoërskool Bergvlam plaasgevind. NKK het hulle pad na die eindstryd oopgeveg toe hulle die vorige naweek in die semifinaal Secunda toe gereis en teen Sasol kragte gemeet het. Hulle het met vyf paaltjies geseëvier.

Die besoekers se openingskolwer, Wihan Cornelius het 44 lopies van 92 balle aangeteken, maar na uitstekende boulwerk van Bernard Vorster, was Middelburg se kans op ‘n oorwinning neusie verby.
Middelburg is vir 175 lopies na 49,4 boulbeurte teruggestuur kleedkamer toe.
Vorster het drie paaltjies vir 42 lopies na 10 boulbeurte agter sy naam geskryf, terwyl Jean Rossouw (twee paaltjies vir 17 lopies na vier boulbeurte) en Shawn Cross (twee paaltjies vir 13 lopies na 2,4 boulbeurte) ook goed met die bal in hand gevaar het.
NKK het tweede gekolf en die wen lopies na net 27,5 boulbeurte, met slegs drie paaltjies plat, aangeteken. Aanvangskolwers Ruan Neethling (26 lopies van 35 balle), Wihan Jacobs (70 lopies van 61 balle) en kaptein Reyno Kruger (63 lopies van 43 lopies*) wat puik met die kolf gevaar het.

Gerald Ngwenya wat hierdie drie paaltjies laat spat het, was Middelburg se suksesvolste bouler.

