Komati spog nou weer met puik stoeiklub
Komatipoort se stoeiklub is weer op dreef danksy die ondersteuning van 'n groep passievolle ouers, 16 jaar nadat dit ontbind is.
KOMATIPOORT – Klublede van die plaaslike stoeiklub het die Pumatjie-dag op 17 Maart in eMalahleni bygewoon en hulle ondersteuners baie trots gemaak met hul prestasies.
Die klub is in die tagtigerjare deur Hansie Kruger begin, maar in 2002 ontbind. Mense wat voorheen deel was wou graag hê hulle kinders moet ook die sport leer ken, maar die naaste klub is in Mbombela.
LEES OOK: Komaties verwerf 23 medaljes by hierdie jaar se interhoër
Hulle het toe besluit om hul eie klub in Komatipoort te stig en met die hulp van Hansie Kruger en die goedgesindheid van klubs in Mpumalanga is dit met matte, seile en ander benodighede toegerus.
Daar is tans drie vurige afrigters, Basjan Kok, Kobus Mans en Morné Lindeque en 26 stoeiers. Die klub hoop om hulle ledetal nog te groei en vra dat oud-stoeiers aansluit om te help met afrigting.
Volgens Hannes Eloff, die klub se voorsitter, is “ons geseënd op die stadium met wonderlike ouers wat altyd die kinders en ook vir ons, bystaan op alle vlakke”.
Die stoeiklub is by die Mpumalanga Stoeivereniging geregistreer en het reeds vanjaar aan twee toernooie deelgeneem. Albei was in die Hoëveld, maar toernooie vind so ver as Pretoria plaas.
LEES OOK: Groentjies sing en dans tydens soektog na die Komati Hart
Lede oefen Dinsdae en Donderdae vanaf 17:30 by die rugbyklub se saal en belangstellendes is welkom om aan te sluit.
Die gemeenskap kan die groeiende klub ondersteun deur borg te staan vir die seuns se uitrustings, vervoerkostes en ander benodighede.
“Komatipoort Stoeiklub is ‘n klub met ‘n groot toekoms en ek verwag groot dinge wat kom. Watch this space!” het Eloff gesê.
