Local sportSport

Twee uit twee vir Pumas

Die Pumas het Donderdag die Blou Bulle in die Kees Taljaard-stadion, Middelburg met 47-26 uitoorlê.

Dit was die Pumas se tweede van drie opwarmingswedstryde in voorbereiding op die SuperSport-uitdaagtoernooi.

Pumabreier Brent Janse van Rensburg sê dat die spelers nie nou op hul louere kan rus nie.

“Ons sal moet leer om die volle 80 minute te speel. Die tweede helfte het ons ons voet van die pedaal afgehaal. Ons sal ons wedstrydplan beter moet uitvoer. Wedstryde gaan van hier af net moeiliker raak. Daar was wel goue oomblikke gewees en ons sal graag die res van die seisoen op dit wil voortbou.”

Hennie Skorbinski en sy span het rustyd reeds met 42-14 voorgeloop het.

In die tweede helfte was daar ietwat van ‘n insinking.

“Ons moes meer punte in die tweede helfte aangeteken het. Die week sal ons aan areas waar daar nog leemtes is, werk.”

Voorspelers, Nardus van der Walt en Hilton Lobberts het die Bulle geboelie en die agterlyn het die afrondingswerk gedoen.

Devon Williams (2) en JP Lewis het albei die doellyn opgesoek en die haker Marko Janse van Rensburg het ook ‘n puik drie gedruk. Skrumskakel Stefan Ungerer, wat seker in die beste fisieke toestand van sy lewe is, het ook onder die pale gaan kuier en so ook die senior staatsmaker De-Jay Terblanche.

Nuweling Johann “Boeta” Vermaak het ook gedruk en losskakel Kobus Marais het ses keer verdoel.

Die Pumas was vir lang tye in die tweede helfte diep in hul eie halfgebied vasgepen. Dit het egter aan Willie Engelbrecht, wat verlede week by sy span aangesluit het nadat hy saam met die Leeus se Superrugbygroep geoefen het, die geleentheid gebied om die Bulle op sy kenmerkende manier af grond toe te bring.

Witrivier Rugbyklub (WRK), wat vanjaar sy 90ste bestaansjaar vier, speel Saterdag gasheer vir die Pumas se laaste opwarmingswedstryd teen die Sharks XV.

Daar sal ‘n biertent en kosstalletjies wees. Toegangsfooi beloop R20 per persoon.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Check Also
Close
Back to top button