WRK skop seisoen af, laaste kans vir Pumas
Nuweling Abrie Griesel gaan sy debuut by die Pumas in die begin-15-tal maak wanneer die span môre in hul laaste opwarmingswedstryd voor die SuperSport-toernooi begin, teen die Sharks XV uitdraf.
Die kragmeting vind by Witrivier Rugbyklub plaas.
Pumabreier, Brent Janse van Rensburg het sewe veranderinge aan die span wat verlede week die Blou Bulle met 47-26 afgeransel het, vir môre se stryd aangebring.
Johann Vermaak skuif linker vleuel toe met die insluiting van JP Lewis.
Willie Engelbrecht, wat van die plaasvervangersbank teen die Bulle in die Kees-Taljaard Stadion in Middelburg opgekom het, begin in die nr. 8-trui. Nardus van der Walt vervang vir Hilton Lobberts op sewe flank. Jannie Stander is ook vir die eerste keer in Janse van Rensburg se beginspan ingesluit.
Stander speel in die plek van Cameron Lindsay wat plaasvervangersbank toe skuif.
Louis Albertse sal van die plaasvervangersbank af speel met Marné Coetzee wat op vaskopstut sal uitdraf. Voor-malige speler van die Leeus, Andrew Beerwinkel en Thierry Kuate (Sharks) wat op ‘n proeftydperk by die Pumas is, kan moontlik hul debuut vir die Pumas maak.
Gasheerklub Witrivier kom in die hoofwedstryd van die Burgermeestertoernooi teen Sasol te staan. Witrivier het verlede jaar in die eindstryd van dié toernooi met een punt teen die einste span van Sasol vasgeval.


