Mentz deel van Saru bestuur
Voormalige president van Mpumalanga Rugbyunie (MRU), Hein Mentz is Vrydag tydens Saru se jaarvergadering tot dié unie se uitvoerende bestuur verkies.
Mentz was sedert 2008 aan stuur van sake by MRU.
AG Visser (huidige streeksvoorsiter van die Laeveld) sal tien teen een as MRU se nuwe president aangewys word. Die aanstelling word Saterdag 21 April net voor die afskop van die SuperSport-uitdaagtoernooi met die wedstryd tussen die Pumas en die Blou Bulle by Nelspruit Rugbyklub, aangekondig.
“Ek wil deursigtige waardes tot die bestuur toevoeg. Ons as bestuursspan gaan poog om die sport rugby op ‘n volhoubare manier te bestuur. Daar is ‘n groot uitdaging wat vir ons voorlê. Rugby in Suid-Afrika is onder groot druk weens faktore wat buite ons beheer is. Daarom sal ons op die aspekte waar ons wel ‘n sê het, fokus,” het Mentz gesê.
Hoof- uitvoerende beampte van MRU, Pieter Burger noem dat met die aanstel van die nuwe bestuur daar op die regte besluite op en van die veld af gefokus sal moet word.

“Die volgende 16 maande sal van kardinale belang vir rugby in Suid-Afrika wees. As sake nie drasties verander nie, sal beroepsrugby in Suid-Afrika doodloop,” het Burger gemaan.
Burger wat die afgelope vier jaar saam met Mentz gewerk het, sê dat sy testament ‘n bewys is van harde werk by MRU.
“Hein het nog altyd ‘n suiwer visie gehad. Ons wens hom alle sterkte en voorspoed toe. Rugby in die algemeen het hom baie nodig.”
‘n Nuwe adjunkpresident van MRU sal ook komende naweek bekend gemaak word. Huidge adjunk, Arrie Myburg en voorsitter van die Skeidsregtersvereniging in Mpumalanga, Steve Brits het hulle name in die hoed vir die pos gegooi.

