Local sportSport

Pumas behaal tweede sege

Slot van die iCollege Pumas, Tazz Fuzani se lot vir die res van die seisoen is gister bepaal nadat hy na agt minute die veld weens 'n stamp teen die skouer moes verlaat. 

Fuzani, wat nie deel van die Pumas se Curriebekerveldtog was nie, nadat hy ‘n skoueroperasie moes ondergaan, het gister vir die nodige skanderings gegaan. Pumabreier, Brent Janse van Rensburg het gesê dit lyk nie te ernstig nie.

Nietemin is die Pumas se veldtog in the Supersport-uitdaagtoernooi op koers nadat hulle Saterdag op Wits met die Xerox Goue Leeus met 35-26 afgereken het. Die Leeus was eerste op die telbord toe hul lenige slot Rhyno Herbst aan die oorkant op vleuel opgeduik en in die hoekie gedruk het.

Die Pumas het nie op hul louere laat rus nie en blitsig teruggeslaan met ‘n drie van hul eie en met ‘n suksesvolle doelskop kon hulle die voortou 7-5 neem.

Vyf drieë, waarvan JP Lewis, De-Jay Terblanche en Devon Williams verantwoordelik was, was genoeg om die kragmeting deur te trek nadat die Pumas in die eerste ronde die Vodacom Blou Bulle met 36-18
vermorsel het.

De-Jay Terblanche.

Met die rustydtelling 17-12 in die Pumas se guns was die wedstryd nog in die weegskaal, maar dit was veral in die vaste fasette waar die ouer Puma-manne die oorhand gehad het. Die tuisspan se hanteerwerk wanneer hulle op die voorvoet was, het hulle in die steek gelaat. Die gevaarlike Superrugby-vleuel Aphiwe Dyantyi, in sy eerste wedstryd terug na ‘n besering, is met valkoë dopgehou en sy bydrae op die dag was beperk tot twee of drie korterige mooi lopies.

Die Pumas se laaste drie het agter hul eie doellyn begin toe die Leeus amper oor was vir ‘n drie, maar die manne in pienk en grys het die bal gegaps en die lengte van die veld genael om die laaste spyker in die Leeus se kis te timmer.

Chris Smith op losskakel het, net soos teen die Bulle, sy teenwoordigheid laat voel met slim hoë skoppe terwyl sy skoppe pale toe amper voltallig was met drie verdoelskoppe en drie strafdoele.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Check Also
Close
Back to top button