Local sportSport

Rugby loop in AG Visser se bloed

"Ons gaan hard werk om ons ondersteuners by ons tuiswedstryde te kry sodat ons die Pumas tot groter hoogtes aan spoor."

AG Visser was al ‘n treinstoker, klerk, ‘n konsultant, menslike hulpbronne beampte, rugbyklubsekretaris van die streek, toe voorsitter en daarna vise-president van Laeveld Rugby-unie. Nou is dié 56-jarige die president van die Mpumalanga Rugby-unie (MRU).

En nee, hy het nie die naam van die bekende Suid-Afrikaanse digter Andries Gerhardus Visser geëerf nie en ook nie sy talent nie. Hy is Andries Gous Visser en ‘n man met ‘n hart vir rugby.

Visser is in Kimberley gebore waar hy by Hoërskool Diamantveld gematrikuleer het. Hy het alle sportsoorte op skool beoefen – van rugby tot diskusgooi en as hy netbal kon speel, sou hy dit ook gedoen het.

Hy was lank en skraal en het as reserwe vir sy skool se derde rugbyspan uitgedraf en ‘n paar wedstryde vir Hoffiepark-rugbyklub, vandag as Griekwapark bekend, gespeel.

‘n Mens sal nie sê dat hy as ‘n jong lat nie van mense gehou het nie. Hy het geologie by Kovsies gaan studeer. Hy is lief vir die natuur en om ‘n geoloog te wees verg nie baie praatwerk met mense nie. Vandag moet hy skouers met die ander Suid-Afrikaanse Rugby-unies se presidente skuur.

Na ‘n jaar se studies het hy opgeskop en vir drie maande as ‘n treinstoker in Kimberley gaan werk. Later is hy weermag toe waar hy sy menssku-wees ontgroei het. “My Engelse onderwyser het destyds gesê geologie is nie vir my nie, en op die einde van die dag was hy reg.”

Visser het sy honneurs in bedryfsielkunde in 1984 by Kovies voltooi. Hy het toe as konsultant by Joset Bestuursdienste in Kimberley begin werk. Visser en sy vrou, Anneli is in 1985 getroud en is sedert 1989 Onderbergers.

“‘n Pos as ‘n menslike hulpbronbeampte by die ou TSB, vandag RCL Sugar, is in ‘n Sondagkoerant geadverteer. Sak en pak is ons toe Malalane toe. In 2008 het ons Mbombela toe getrek om nader aan die kinders te wees wat toe nog op skool was.”

Met hulle aankoms in Malalane, het Visser by Malelane Rugbyklub betrokke geraak. Aan die begin van die 1990-rugbyseisoen is hy as sekretaris aangestel en daarna het hy as die voorsitter vir die klub gedien.

“Ek is dankbaar en nederig oor my aanstelling as die nuwe president. Ek is bevoorreg om oor te neem waar strukture in plek is, maar daar lê nog baie uitdagings vir ons voor. Onder Hein (Mentz, voormalige president) se leiding is die nodige strukture in plek gestel en is die fondasies gelê. Die unie het ‘n raakvatter in Pieter (Burger, hoof- uitvoerende beampte van MRU) en ek sien uit om ‘n pad saam met hom en alle ander rolspelers te stap. Een van ons doelwitte sal wees om ons rugbystrukture optimaal te ontwikkel en te versterk.

“Ons gaan ook hard werk om ons ondersteuners by ons tuiswedstryde te kry sodat ons die Pumas tot groter hoogtes aan spoor.

“Nog ‘n doelwit is om ‘n Puma rugby-akademie op die been te bring, maar Rome is nie in een dag gebou nie.”

Also read: Maseko defeats the screaming monster

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Check Also
Close
Back to top button