Nelspruit Rugbyklub steek die Hoëvelders die loef af
Met 'n tweede asem het NRK 'n aanval geloods wat die besoekers heeltemal ontnugter het.
Nelspruit Rugbyklub (NRK) het ‘n welverdiende tweede plek op die Protours Premierliga se punteleer behaal toe hulle Saterdag die Hoëvelders kafgedraf het.
Met ‘n rustydtelling van 24-10 was Middelburg vas oortuig dat dié gaping gou toegemaak kon word. Maar met ‘n tweede asem het NRK ‘n aanval geloods wat die besoekers heeltemal ontnugter het.
Poging na poging om Nelspruit te stuit, was tevergeefs en nog 25 punte het ‘n eindtelling en ‘n reuseoorwinning van 59-10 verseker.
Nie net het Henk van Tonder, beter bekend as Tjokkie, se skopskoen die span na hulle oorwinning gehelp nie, maar hy het ook twee maal agter die pale gaan kuier.
Verder het die linkervleuel Lloyd Malatjie twee pragdrieë aangeteken en is ook as die agterspeler van die wedstryd aangewys.
Die binnesenter Jacques Taylor, agtsteman Francois Koch, flanke Dylan Soderlund en Jozua de Jager sowel as reserwespeler Mishak Fakude, het elk ‘n drie gedruk. De Jager is ook as die voorspeler van die wedstryd aangewys.
Dit het maar broekskeur gegaan met Middelburg wat slegs daarin kon slaag om een drie, ‘n doelskop en ‘n strafdoel aan te teken.
Die stryd was aansienlik taaier tussen dié klubs se tweede spanne. Middelburg het tot kort voor rustyd voorgeloop, maar ook hiér het die wiele in die tweede helfde se kleitrap afgeval. NRK 2 wen oortuigend, 48-36.
Sake op die Protours Premieliga-punteleer staan tans so: Die onoorwonne Sasol Secunda lê heelbo aan die leer met 14 punte. Hulle het die afgelope naweek met Witbank Rugbyklub afgereken.
NRK lê tans tweede met 12 punte en kon sover slegs teen Witrvier nie die mas opkom nie. Na dié wedstryd, lê Witrivier nou derde en het sover een wedstryd in die liga verloor en een gelykop geëindig.
Na die naweek se nederlaag het Middelburg afgeskuif na vierde. Hulle kon sover slegs een wedstryd wen en lê tans op vyf punte.
Sasol geniet die komende naweek tuisveldvoordeel wanneer hulle teen Highlanders van Newscastle te staan kom.
NRK gaan in eMalahleni (Witbank) met dié span koppe stamp terwyl Witrivier op hulle tuisveld met Middelburg sal kragte meet.
Lees ook: Mei-kolom met Maré Putter
