Luyt speel sy 51ste Jock-toernooi
Die Jock of the Bushveld-gholf-toernooi, wat as een van die grootste amateurweke beskou word, het verlede week spelers van heinde en ver na Mbombela Gholfklub gelok.
Dit was 1 200 spannende rondes met meer as 550 spelers wat oor die sewe dae aan die 51ste Jock wat vanjaar deur Guma Capital geborg is, deelgeneem het.
John Luyt (79) het nog nie een van die toernooie misgeloop nie en vertel tong in die kies dat as hy volgende jaar nog in die omgewing is, hy beslis weer sal speel.
“Ek keer elke jaar terug om lewenslange vriende te sien en om nuwes te maak. Die atmosfeer word jaarliks beter en dit is ‘n goed georganiseerde week.”
Piet Nel (80) het vanjaar aan sy 43ste Jock-toernooi deelgeneem. Sy eerste was in 1974 op die ouderdom van 44. Hy het ‘n toernooi in 1981 misgeloop.
“En het ek verlede week geniet. Dit is ‘n lekker tyd van die jaar om al die vriende wat jy oor die jare gemaak het, weer te sien. Dit is net so lekker om my boesemvriend, Gavin McKay wat al in 33 Jock-toernooie gespeel het, saam te bring.”

Nel onthou veral die 1988-toernooi wat hy ‘n kolhou op die 17de gespeel het en die jaar toe hy eerste geeïndig het.
“Die gees by Jock raak elke jaar beter en beter en dit is een van die groot redes waarom ek elke keer terugkom om aan die toernooi deel te neem.”
Nel is al 16 jaar by Woodhill Buiteklub in Pretoria as baanopsigter en afsitter betrokke.
“Dankie vir almal wat by vanjaar se toernooi betrokke was – van die borge, eregaste, vermaaklikheidskunstenaars, personeel tot die afsitters, baanopsigters, spelers en gaste – en veral aan dié wat van ver gekom het om die week saam met ons te kom kuier,” het die hoof- uitvoerende beampte van Mbombela Gholfklub, Darren Plumb gesê.
Montey de Smit en Lorraine Louw het ook ‘n groot mylpaal behaal met hulle 50ste Jock op hulle kerfstok.
Wenners en borge
Dag 1 – Hi-Q en motorbedryf, bestebal-Stableford
• Warren Schippers en Prof Mohlahlo – 48 punte
• Lorraine Martin en Sue Prior – 45.
Dag 2 – Guma Capital
Joggie-uitdaagtoernooi – Mduduzi Myambo – 43
• A-divisie – Ross Tapson – 42
• B-divisie – TT Mhlabane – 40 op ‘n uittel.
Dag 3 – Oniko
• A-divisie – Billy Granger – 38 (uittel)
• B-divisie – Gerrit van Wyk – 43.
Dag 4 – Renasa
• A-divisie – Phuso Maloko – 38 (uittel)
• B-divisie – Brian Beyers – 39.
Dag 5 – Distell
• Beste gros – Hoffman Maritz – 74
• A-divisie – Piet de Jager – 41 (uittel)
• B-divisie – John Luyt – 44.
Dag 6 – Hino Mbombela
• Beste gros – Giel van Wyk – 73
• A-divisie – Tony Barnard – 40
• B-divisie – Werner Ferreira – 38
• Nidene Stapelberg – 38.
Dag 7 – Jock-ope, Makro Mbombela (individuele medalje 36 gaatjies)
• Beste bruto – Drikus Joubert – 137
• Beste netto – John Luyt – 135.











