Impalas gee Ratels pak in rugbyseisoen se vierde wedstryd
Die Impala Rugbyklub van Komatipoort het nog 'n oorwinning in die sak nadat hulle die Ratels van Ohrigstad 52-18 geklop het.
Die Impala Rugbyklub het Saterdagmiddag vir die derde opeenvolgende keer op hul tuisveld hul teenstanders in die Ehlanzeni Burgemeestersliga geklop.
Komatipoort het weer met pragtige rugby vorendag gekom en agt drieë ingeryg.
Kaptein Frikkie Odendaal het drie daarvan gedruk, met Driken Grobler, Dirk le Roux, Cashwell Khoza, Tiaan Fourie en Jan-Hendrik Odendaal wat ook elk oor die doellyn geduik het.

Losskakel Dewald van Dyk het met sy skopskoen vir die res van die punte gesorg.
Die rustydtelling was 24-10 in die Impalas se guns. Hoewel die Ratels hard probeer terugveg het, kon hul net agt punte in die tweede helfte aanteken.
Die voorspeler van die wedstryd was Driken Grobler en in die agterlyn was Dewald van Dyk as die beste speler aangewys.

Die span het sover vier ligawedstryde gespeel en puik gevaar.
Hulle het gelykop teen Hoedspruit geëindig (36 punte elk). Daarna het hulle Barberton geklop met 33-26 en verlede naweek oor Lydenburg geseëvier met 27-7.
LEES: Impalas reken af met die Rooikatte
Volgens Ben Jordaan, bestuurder van die span, is die gees in die klub “fantasties en ons is geseënd met ‘n kombinasie van jong en senior spelers”.
Die klub het groot waardering vir hulle borge, veral Securicon Lowveld, uitgespreek. Hulle volgende wedstryd is 23 Junie teen Malelane op die Olifante se tuisveld.
