Die jaar se manne-aand is een vir die boeke
Man vir man het almal Woensdag by die Pumas se manne-aand by Mbombela Stadion byeengekom. Kele is natgemaak, manne was trommeldik geëet en daar was lekker gelag.
Krokodil, afval, hoenderpootjies, skaap-vleis, en koedoe was op die spyskaart. Proestasies het die presidentslosie vol-gestaan met biere soos Budweiser en Red Rock, asook Haig Clubman, Bains en Ballantines-whiskey.
SuperSport-kommentator, John van Rensburg het al die pad van Johannesburg af gekom om van sy rugbystaaltjies te deel.
Direkteur van rugby, Jimmy Stonehouse praat oor sy tyd in Japan by die Brave Toshiba Lupus

Dit was ‘n ongelooflike geleentheid om vir drie jaar in Japan te kon afrig. Ek het saam met spelers soos Coenie van Wyk, Liam Messam, Michael Leitch, Richard Kahui en Frans Steyn gewerk. Dit was ‘n belewenis om die spelers af te rig, maar ek het ook baie by hulle geleer.
Daar was nooit minder as 40 000 toe-skouers by ‘n tuiswedstryd nie.
In Japan eet ons nie katte en honde soos wat almal dink nie. Jy eet ook nie soesji met mayonnaise nie – soesji bestaan uit rys en rou vis.
Jy moet maar weet, as jy gaan uiteet, gaan jy nie minder as R500 vir ‘n steak betaal nie. In Japan sal ‘n Mango jou so R420 kos en ‘n trossie druiwe R864. As jy ‘n hond wil koop, sal dit jou tussen R35 000 en R180 000 uit die sak jaag.
Wintermaande lyk soos ‘n sprokies-verhaal. Aan die begin het my tone gevries, maar ek het vinnig al die tricks geleer. Jy kry ‘n plakker wat jy enige plek op jou lyf kan plak, wat hitte vrystel of jy trek plastieksakkies aan voordat jy jou skoene aantrek – dan kry jou voete nie koud nie.
Ek het voor my laaste wedstryd by Toshiba Brave Lupus die truioorhan-diging gedoen. Toe Richard opstap, toe pik hy ‘n traan. Ek weet nie wie was meer hartseer, ek of hy nie.
Daar was vyf asblikke buite my huis – elkeen met ‘n verskillende kleur vir wat waar moet ingegooi word. As jy ‘n melkboksie weggooi, moet jy eers die boksie oopknip, was en ingooi. Dieselle met vleis. Jy maak die sakkie oop, was dit, droog dit af en gooi dit in.
Van Rensburg deel rugbystaaltjies

Wie kan die wedstryd op Witbank tussen die Suidoos Transvaal en WP onthou? Daardie jare as jy vir die Suidoos Transvaal wou speel, moes jy eers ‘n toets geskryf het.
Die eerste vraag was, “Wat is jou kerkverband?” Daar was so ‘n jong outjie gewees wat “Ek skuld die kerk niks nie,” geskryf het. Die tweede vraag was ‘n geskiedenis vraag, “Waarvoor was Lodewyk 14 bekend?” Die outjie het op sy toets geskryf, “Hy was verantwoordelik vir Lodewyk 15.”
‘n Storie wat ek graag vertel, is die een oor Frik du Preez. Vir die wat nie weet nie, Frik het net een toetsdrie gedruk. As mense dan vir hom vra wat was jou beste toetsdrie, dan antwoord hy, “Die een in 1986 op Loftus Versfeld. Dit was verreweg my beste drie.”
Tana Umaga het tydens ‘n onderhoud gesê, “I owe a lot to my parents, especially my father and my mother,” Jonah Lomu het weer gesê, “Sure there have been deaths and injuries in rugby, but none of them were serious.”
Ek is lief vir die Pumas. Julle het ‘n spesiale plek in my hart.


















