John – ‘n man met ‘n passie vir rugby
Die man met die fluweelstem en kwinkslae, John van Rensburg is nie 'n onbekende gesig op die kassie nie. Dié legende, het al 129 Springboktoetse op SuperSport uitgesaai.
Carli Koch gesels met John van Rensburg – SuperSport-rugbykommentator en regsadviseur
“Môre oom John. My naam is Carli Koch en ek is ‘n joernalis by Laevelder,” stel ek myself voor.
“Noem my John. Nie oom John nie. Net John.”
Vir my, is John ‘n onvergeetlike karakter. En as hy eers op sy praatstoel sit, dan kan jy nie anders as om dit waarmee jy besig is eenkant toe te skuif en aandagtig na sy rugbystaaltjies te luister nie.
Ek het in die week ‘n paar foto’s van my werksstastie vir John gestuur.
My eerste rugbybal, ‘n Curriebeker-wedstrydbal wat Marius van der Westhuizen vir my in 2012 gegee het, staan in my ventsterbank. Die muur voor my is vol foto’s van bekende spelers soos Richie McCaw, Aaron Cruden, Francois Steyn en Johan Goosen geplak.
“Deksels cool! Ek gaan ook so ‘n paar foto’s vir jou op whatsup stuur,” laat weet John.
Vyftien foto’s later. Meer as ‘n 1 000 geraamde rugbytruie, leerballe uit die jare en nog baie ander memorabilia word in die foto’s weerspieël.
“Hoeveel kamers vol memorobila het jy?” Dit is oral!! Behalwe in die hoofslaapkamer en badkamer.”
Hoe het die geleentheid homself voorgedoen?
Tydens ‘n sportvasvrae-kompetisie op die radio wat ek gewen het. Die wenprys was twee Curriebeker-eindstrydkaartjies in 1985 tussen die Noord-Transvaal en Westelike Provinsie op Nuweland. Daardie aand het die bestuurder van sport-radio vir my gevra of ek by die radio betrokke wil raak en toe het ek. In 1989 het ek my eerste uitsending op radio gedoen. Daarna televisie in 1990 en in 1992 in ek Frankryk toe vir my eerste Springboktoetes en sedertien is ek by SuperSport.
Wanneer het jy vir die eerste keer op Mbombela Stadion uitgesaai?
2013. Ek kan dit baie goed onthou, want die Springbokke het toe nog in wit truie gespeel. Dit was die eerste internasionale wedstryd wat op Mbombela gespeel is – die Bokke teen Skotland.
Wat is dit wat jou werk so opwindend maak?
Elke wedstryd is onvoorspelbaar. Jy kan vir ‘n eksamen voorberei, maar nie vir ‘n rugbywedstryd nie. Die adrenalien pop. Dit is nie ‘n reg om uit te saai nie, dit is vir my ‘n voorreg. Ek het al sewe Boktoere gedoen. Dit is lekker om te weet dat jy die beste sitplek op die stadion het. Ek het ‘n hengse passie vir rugby.

Was jy nog altyd só spraaksaam?
Ek het nog altyd baie gepraat. Ek hou baie van mense en dit is lekker om my stories met mense te deel. In my beroep is dit belangrik om baie te kan praat.
In jou 29 jaar as ‘n kommentator, ‘n onvergeetelike oomblik?
Die 2007 Rugby Wêreldbeker-eindstryd saam met Kobus Wiese in Parys, Frankryk. Waarvoor kan iemand nou meer vra? Ons het sewe weke saam met die Bokke getoer. Niemand kan dit ooit van my af wegvat nie. En dan was ek die eerste Afrikaanse kommentator wat ‘n wedstryd op Soweto uitgesaai het.
Wie is van jou groot vriende wat jy oor die jare leer ken het?
Die twee oud-spelers Joost van der Westhuizen en Uli Schmidt. Hulle het my baie van rugby af geleer. En die tye wat ons saam gekuier het, het ek onsettend baie geniet. Hulle is legends!
Hoe oud is jy nou?
My ouderdom verander elke jaar…

Is daar iets waarvan min mense van jou af weet?
Op 10 Junie hardloop ek my 26ste Comrades. Ek het agt saam met Uli, wat nou in Australië bly, gedoen.
As jy nie uitsaai nie, waarmee hou jy jouself besig?
Ek het die grootste private rugbyversameling. Die ‘museum’ is baie werd. Ek het truie van Joost van der Westhuizen, Jonah Lomu, Francois Pienaar, Joël Stransky en so gaan die lys aan. Jy moet die geskiedenis van rugby ken om dit te kan uitsaai. My oudste trui in my versamling, is van ‘n Meintjies in 1906.



