Die Skim praat oor…
'n Kragmeting tussen Ligbron en Hoërskool Rob Ferreira het onlangs behoorlik die ooghare laat rys toe 'n o/18-speler, vir die gasheer se o/15's uitgehardloop het.

Die spelers is dit eens dat die oom nie veel van ‘n verskil gemaak het op die veld nie, maar dat sy baard wel ‘n paar skuurmerke agtergelaat het.
Rob het wel die kragmeting met 17-11 gewen.
Rob het erken dat ‘n ouer seun vir die jongspan uitgedraf het. Volgens een van die Skim se bronne, het ‘n onderwyser van die besoekers ‘n klag ingelê en na ‘n ondersoek is dié speler se geboortesertifikaat vervals. Wys jou net. Die waarheid kom altyd uit.
Nelspruit Rugbyklub sit sonder ‘n afrigter. Dit nadat die voormalige afrigter glo gebuk gegaan het onder gerugte wat die ronde gedoen het. Hy meen dat hy dit vir die liefde van die saak doen, en het terstond toe hy hiervan te hore gekom het, sy fluitjie opgehang.
Wat die gerugte is, weet die vet alleen, maar ek twyfel of dit iets te doen het met sy gekoppelde Facebook-profiel.
Die rugbyveld is nie ‘n bokskryt nie. Daar is sekere skole wat werklikwaar vir hulle dissipline gelukgewens kan word. Daar is egter ander, ek noem nie name nie, wat hoewel hulle skaars een wedstryd hierdie seisoen gewen het, loop en stamp en stoot en vuiste swaai. Dit verpletter die doel van skolerugby, wat eintlik veronderstel is om ‘n skouspel van talent te wees.
Intimideer eerder jou teëstanders met goeie, regverdige spel. En as die manne van die Hoëveld of elder, jou tjirp, draai jou ander wang. Ek het dit vantevore gesê maar ek sê dit weer. Afrigters wat langs die veld is, mag nie die spelers waarsku as ‘n ander speler op hom afpyl nie. Gee albei spanne ‘n regverdige kans om ‘n verrassingsaanval te loods. En ook, wanneer gaan die skeidsregter bietjie hulle oë oopmaak?
Meneer die ref, hoeveel keer gaan jy toelaat dat ‘n speler nadat hy ‘n drie aangeteken het, stamp laat hy daar trek, of op die speler duik met die doel om hom te beseer? As die toeskouers kan sien daar word ‘n vuishou geplant, hoekom kan jy, wat slegs 10 sentimeter weg is, dit nie raaksien nie?
Ek mag verkeerd wees, maar wanneer ‘n speler ‘n bal aanslaan, en die speler voor hom die bal speel, is hy onkant. Is ek verkeerd?



