Nellies soek die grootskole-trofee
Laerskool Nelspruit se o/11 A-rugbyspan is die enigste span wat tot die eindstryd van die Mpumalanga grootskole-liga deurgedring het.
Die halfeindstryde is Dinsdag op Ligbron Akademie se velde beslis.
Nellies het CR Swart met 10-0 geklop. Dié seuns kom môre teen Goedehoop op Hoërskool Nelspruit se velde in die eindstryd van dié liga te staan.
So naby maar tog so ver.
Dit kan van die eerste spanne van Laerskool Laeveld en Nelspruit Primary gesê word.
Laeveld het in die doodsnikke van die kragmeting teen Laerskool JJ Van der Merwe met 19-15 die knie moes buig. Laeveld het 12 jaar laas ‘n span in die halfeindstryd gehad. “Ons het nie op ons beste gespeel nie. Deur die loop van die seisoen, het ons veral in die eerste helfte van ‘n wedstryd gedomineer, maar nie alles het op die dag uitgewerk nie.
“Die seuns kan steeds trots op ‘n fantastiese seisoen wees,” het die afrigter Edgar Vorster gesê.
Primary sal ook nog ‘n jaar vir die grootskole-trofee moet wag nadat Goedehoop ‘n wegholoorwinning van 22-5 behaal het.


