NHS se spanne voer die botoon aan
Drie van die Ehlanzeni o/13B-netbaltrofeë pronk vanjaar in Hoërskool Nelspruit se voorportaal. Dit nadat die o/14's, o/15's en die o/17B's hul eindstryde gemaklik gewen het.
Die o/14’s het Hoërskool Middelburg (15-6), Secunda (16-8) en Standerton (19-5) geklop. In die eindstryd het hulle met 19-13 met HTS Middelburg afgereken.
NHS se o/15’s was in al hulle groepwedstryde baas. In die halfeindstryd het die dogters teen Hoërskool Lydenburg te staan gekom en teen rustyd was hulle reeds 7-0 voor. Doel, Shana Scott het een na die ander doel gesink terwyl die hulpdoelverdediger, Layla Weyers vir haar span goud werd was.

In die eindstryd het NHS ook skoonskip gemaak deur die span van Standerton met
13-5 te verslaan.
Laerskool Nelspruit se o/11- en o/13-spanne is ook as as Mpumalanga-kampioene gekroon.
Nellies se o/11’s het in die eindstryd met Middelburg met 13-12 afgereken nadat Nellies rustyd met drie doele agter was. Dié span het al hulle uitspeelwedstryde teen onderskeidelik Lydenburg (12-9), JJ van der Merwe (11-6), CR Swart (12-7) en Goedehoop (13-11) gewen.

“Die dogters het van ronde een af Nellie-guts tot in die eindstryde gewys. Ek is baie trots op die dogters. Dankie vir al die ouers se ondersteuning, ons waardeer dit opreg,” het afrigter Monique Orton gesê.
Die o/13’s se hulpdoelverdediger, Mieke Breyl, die doel Rouxlé le Roux en verdediger, Hildelize Kruger was op hulle stukke.
Hulle het Goedehoop in die eindstryd met 16-8 geklop.
“Die span het hul harte uit gespeel, en ek is baie trots op elke speler en die wedstryd wat hulle gespeel het,” het afrigter Anushca Janse van Rensburg gesê.
Laerskool Laeveld se o/11’s het net-net met 7-11 teen JJ van der Merwe in die uitspeelrondes vasgeval.


