S’bu Nkosi – ‘n boorling van Barberton
Hoërskool Barberton het na 62 jaar sy eerste Springbokspeler opgelewer.
S’busiso Nkosi, wat aan die einde van sy gr. 10-jaar besluit het om sy rugbyloopbaan by Jeppe in Johannesburg voort te sit, het Saterdag sy debuut op Emirates Airline Park teen die Engelse gemaak.
Sbu het vir die Pumas se o/16 Grant Khomo-span gespeel.In sy eerste verskyning vir die Bokke, het hy twee drieë gedruk.
Sy ma, Connie en sy hele familie was daar om hulle goue seun te ondersteun.
“Ek is so trots op my seun! Dit was ‘n baie spesiale dag, nie net vir my as ma nie, maar vir die hele familie.”
Afrigter van Barberton, Jaun Pieterse het groot lof vir S’bu. “Ons is geweldig trots op hom. As hy naweke vir sy ma kom kuier, kom maak hy altyd ‘n draai by die skool.
“Hy is ‘n ongelooflike nederige seun en bly weekliks in kontak met die spelers waar hy vir hulle advies gee en sommer maar net hoor of hulle oefen en hoe dit met die rugby gaan.”
Een van S’bu se afrigters, Charlie Jackson het reeds op skoolvlak ‘n blink toekoms vir hom voorspel. “Hy is ‘n wonderlike seun. Ek het voor ‘n oefeninge vir my vrou gesê, ‘kom kyk na die speler’. Ek het toe al gesê hy het ‘n belowende toekoms. Hy is ‘n briljante kind met goeie waardes.”

Laevelder se sportredakteur, Carli Koch voer vandag ‘n onderhoud met S’bu se ma, Connie. Lees die held van Barberton se suksesverhaal in Vrydag se uitgawe.

