Skuts en jagters slyp saam vaardighede by Elsjan Skietbaan
Of jy dit nou geniet om kleiduif te skiet of verkies om 'n bok op 'n jagplaas te bekruip, die Lebombo-tak van die Laeveld Jagters- en Wildbewaringsvereniging (LJWV) het 'n plekkie vir elke soort skut.
Die Lebombo-tak van die Laeveld Jagters- en Wildbewaringsvereniging is ‘n dinamiese tak met rondom 400 lede. Hulle is by die Elsjan Skietbaan naby Komatipoort gesetel.
Lede sluit skuts wat die sport geniet, toegewyde sportmanne en jagters, asook enkele versamelaars in.
Daar word elke maand ‘n kompetisie by die skietbaan gehou, wat die sportskuts help om te kwalifiseer vir kompetisies, sommige help om hul status as toegewyde sportmanne of jagters te behou, en ander help om hul vaardighede skerp te hou.

Takvoorsitter Rènald Radley vertel dat daar ‘n paar skietdissiplines, insluitend langbaan en kleiduif, aangebied word. Skuts kan dan kies waaraan hulle graag wil deelneem, of selfs alles op die proef stel.
Van die klub se ernstige sportmanne neem ook aan kompetisies buite die vereniging deel, waar hulle baie goed presteer. Radley verduidelik dat die tak onder meer skiet as ‘n sport probeer bevorder en ook lede help om hulle wapenlisensies op datum te hou.
LEES: Expert marksmen test their skills at Elsjan Shooting Range
Van die tak se lede tel ook onder die beste skuts in die LJWV, ten spyte van die feit dat hulle een van die kleiner takke is.
Tydens die jaarlikse intertakkompetisie in Pretoria op 10 Maart, het die tak talle pryse ingepalm.
Lebombo het die spankompetisie gewen en lede is ook aangewys as die beste man-, dame- en junior-junior skutte.
Daar was vier items waaraan skuts kon deelneem. Op die langbaan het hulle van 250 m in verskillende posisies na ‘n springbokteiken en kol geskiet.
Deelnemers het in die grootkaliber- en handwapenitems teen tyd geskiet en deelnemers moes poog om onderskeidelik ‘n gong of plaat raak te skiet voor hulle na teikens kon skiet. Daar was ook ‘n Bisley-tipe teikenskiet met .22-gewere.
Haelgeweer-kleiduifskiet is ook aangebied, maar is as ‘n aparte afdeling gesien en nie onder die spanitems gereken nie.
Van die tak se ander prestasies is twee veterane wat agtste en negende plekke behaal het, asook dames wat algeheel agtste en negende gekom het.
Op die grootkaliberbaan het lede die enigste twee voltalle vir die dag geskiet. Ses van die toptienplekke in die haelgeweeritem was van die Lebombo-tak.
Die eerste plek het ‘n voltal geskiet en die tweede plek byna voltal met 98,4 persent. Die junior skuts het beïndruk en gewys dat daar hope talent en entoesiasme vir die sport onder die jeug is.
Vir meer inligting oor die tak of vereniging, besoek lowveldhunters.co.za, of kontak Radley by 013-790-0056 of ljvleb@webmail.co.za.
