Standerbroers deel van Zim se nasionale span
Geografie-onderwyser by Laerskool Laeveld, Jos Stander en sy jonger broer wat sedert 2015 vir die Pumas uitdraf, Jannie is reeds in Zimbabwe waar hulle deel van die nasionale span is wat vir die Afrikabeker gaan meeding.

Mits Zimbabwe dié beker omhoog hou, sal die nasionale span kwalifiseer om aan volgende jaar se Rugby Wêreldbeker in Tokyo, Japan deel te neem.
“Ek wou nog altyd ‘n wêreldbeker bywoon, maar om dit as ‘n speler te kan doen, sal ongelooflik wees,” sê Jos.
Die Standers het op ‘n plaas in Zimbabwe grootgeword waarna hulle in 2014 na Phalaborwa toe verhuis het. Jos was in Laerskool Phalaborwa Noord en het sy matriek by Frans du Toit voltooi. Hier het hy vir die o/16- en o/18 Limpopo Blou Bulle uitgedraf.
Jos en sy vrou, Loraine het reeds op hoërskool uitgegaan. Jos het sy studies by Tukkies voltooi en Loraine is Bloemfontein toe. Na afloop van Jos se studies, is hy Amerika toe waar hy vir ses maande vir Austin Huns gespeel het. Die twee het oplaas kontak verloor.
“Haar pa het vir my gesê Loraine is in die dorp. Ek het haar geWhatsApp en gevra of sy graag wil gaan koffie drink. Sy het ingestem en die liefde het vandaar af weer vlamgevat.” Die dominee wat Jannie en sy vrou getrou het, is Loraine se pa.
Jos speel nou al twee seisoene vir Nelspruit Rugbyklub. Op universiteitsvlak het hy vir Tuks se o/19- en o/21-spanne gespeel.
Hy versamel graag rugbytruie en het oor die 80 landsvlae. Van dit is in sy klaskamer vasgepen.
Zimbabwe het Saterdag teen Marokko te staan gekom.



