Karmia kry vir die derde jaar die goue medalje
Karmia van Jaarsveldt mag dalk net agt jaar oud wees, maar sy het reeds die gimnastiekkringe aan die gons.
Sy is vir die derde opeenvolgende jaar as die Noordsone-toernooi se kampioen aangewys.
Dié donkerkoppie van Nelspruit Gimnastiek-akademie (NGA) het die afgelope naweek in die matsportsentrum in Centurion, Pretoria ‘n gemiddeld van 9,44 vir vlakdriegimnaste in die kategorie: ses tot agt jaar verower.
Verlede jaar tydens Mpumalanga se Artistiese Gimnastiek-kampioenskappe is sy as die victrix ludorum aangewys en ‘n week later by die Noordsone-kampioenskappe, het sy ‘n algehele eerste plek uit 71 deelnemers behaal en met ‘n gemiddeld van 9,325 gespog.
Lua Henning (vlak een, sewe jaar) het ‘n eerste plek met ‘n gemiddeld van 9,48 verower terwyl haar spanmaat, Carmen Venter (vlak een), ook met ‘n eerste plek met ‘n gemiddeld van 9,44 vir agtjariges beloon is. Carmen, wat reeds as ‘n kleuter by NGA begin het, het vir twee jaar met dié sport opgehou en vanjaar eers weer begin.

Na net vier maande se oefening behoort daar melding van haar goue medalje gemaak te word. Caylin Bodenstein (vlak drie, 9 tot 10 jaar) se gemiddeld van 9,01 het haar ook ‘n goue medalje in die sak gebring.

Tydens die voorlaaste provinsiale proewe vir die Noordsone-kampioenskappe, het Bernard Calitz (vlak een) platinumstatus behaal toe hy ‘n gemiddeld van bo nege behaal het. In Centurion het hy sy prestasie in die saal voortgesit toe hy ‘n tweede plek met ‘n gemiddeld van 9,31 losgeslaan het. NGA se Malise de Villiers (vlak drie, 8,94 vir 13 tot 17 jaar) en Sienna Hoffman (vlak twee, 9,32, sewe jaar) het silwermedaljes om hulle nekke gehang.

“Ons is so opgewonde om die gimnaste steeds te sien groei en verbeter. Die kinders het behoorlik uitgeblink en elke afrigter is so trots en dankbaar dat al die harde werk en baie ekstra ure vrugte afgewerp het,” het Maré Putter gesê.











