Local sportSport

Impalas klop Lydenburg en wen Laeveld-liga

'n Indrukwekkende telling van 43-17 het die Impala Rugbyklub van Komati Saterdag-middag die Ehlanzeni Burgemeestersliga se Laeveld-trofee besorg.

Die Impalas en Lydenburg het Saterdag kragte gemeet by die Witrivier Rugbyklub nadat die eindstryd in Lydenburg op 8 September weens swaar weer afgelas is.

Die spelers kon slegs vir 25 minute op die veld bly. Die Impalas het op daardie stadium met 10-7 voorgeloop.

Saterdag het die wedstryd teen ‘n baie hoë tempo begin. Lydenburg het binne 20 minute twee onverdoelde drieë gedruk voordat die Impalas met ‘n verdoelde drie kon terugveg.

Die voorspelers van die Impalas was in ‘n verwoestende bui en het hulle teëstanders met mening aangevat.
Die Impalas het nog ‘n drie gaan druk vir ‘n rustydtelling van 14-10.

LEES: Impalas claim victory in first Onderberg Cup match

Tydens die tweede helfde het die Impalas danksy ‘n pragtige agterlynbeweging nog sewe punte op die telbord geplaas. ‘n Strafskop het hulle nog drie punte besorg, voordat Lydenburg agter die pale kon gaan kuier.

Die Impalas se spangees en geesdrif het hulle nog drie drieë en een verdoeling besorg, vir ‘n eindtelling van 43-17.

Die Impalas se puntemakers was Cashwell Khoza (twee drieë, vier doelskoppe en een strafskop), Dewald van Wyk (twee drieë), Goodman Nkosi en JP Smit (een drie elk).

Die Impalas se afrigter en bestuur het die hele span as speler van die wedstryd aangewys aangesien almal met groot toewyding en trots gespeel het.

Die klub wil ook graag al hul borge en lojale ondersteuners bedank vir hul bydraes.

LEES: Onderberg Cup: Malelane vs Impalas match 1

Ben Jordaan, die klubvoorsitter, vertel dat hierdie jaar se oorwinning baie vir die klub en spelers beteken. “Vir ‘n klein dorp met ‘n beperkte aantal spelers is dit ‘n fantastiese prestasie. Ons het net een span waar ander klubs in die liga twee of drie het,” sê hy. Die prestasie dien ook as motivering vir jong spelers om by die klub aan te sluit en vir senior spelers om nog langer te speel. Die Impalas wil graag volgende jaar ‘n tweede span inskryf.

Die Impalas gaan op 29 September op hul tuisveld teen Bethal, die Hoëveld-ligawenners, te staan kom om die wenners van die Puma-liga te bepaal.

Gemeenskapslede is welkom om blou aan te trek en die tuisspan te kom help motiveer en so ook die einde van ‘n suksesvolle seisoen te vier.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button