“Amerika” wen hierdie jaar se plaaslike Solheim-beker by Kambaku
Kambaku Gholfklub in Komatipoort se jaarlikse Solheim-beker is verlede Sondag deur die span wat Amerika verteenwoordig het, onder leiding van Janette Maritz, verower.
Twee spanne plaaslike vrouegholfspelers het verlede Saterdag en Sondag aan die Kambaku Gholfklub se weergawe van die internationale Solheim-beker deelgeneem.
“Amerika” het tydens die toernooi “Europa”, onder aanvoering van Roenel Basson, met ‘n telling van 21-11 geklop.

Dit is die sesde keer dat Kambaku hulle weergawe van die toernooi aanbied. Die oorspronklike Solheim Cup-toernooi vir professionele vrouegholfspelers wat Europa en die Verenigde State in spanne verteenwoordig, word sedert 1990 tweejaarliks aangebied.
Kambaku se eerste weergawe van die toernooi is in 2013 deur Roenel Basson begin en was slegs vir Kambaku-lede.
As gevolg van hulle getalle wat verminder het, is daar besluit om die Solheim-beker oop te stel aan die spelers van die Onderbergklubs en daarna aan alle streke.
LEES: Women golfers have fun in “Solheim Cup”
Die plaaslike Solheim-Cup volg dieselfde beginsels as die oorsese weergawe. Spelers word in twee spanne gedeel en wedywer dan om die trofee.
Die eerste 18 putjies se formaat was beurtspelle en die tweede ronde, ‘n bestebalkompetisie. ‘n Oorwinning het vir spanne twee punte in die sak gebring en ‘n gelykoptelling, een punt.
Saterdag het die dames baie swaar gekry met die streek se versengende hitte en dit het in ‘n mate hul spel beïnvloed. Sondag was hulle egter geseën met lieflike, bewolkte weer.
Die laaste 18 putjies was ‘n individuele enkelspel, maar die putjiespel was nog steeds van toepassing.
Die twee dae is elke keer met ‘n heerlike ete afgesluit en aan die einde van die toernooi is die spesiale trofee aan die wenspan oorhandig.
Die organiseerders wil graag hul borge Pioneer Foods, RCL Foods, Mascor en Komatipoort SUPERSPAR vir hul bydraes bedank.
