Vanjaar se gholfdag is een vir die boeke
Die 16de Du Toit-Smuts & Vennote tesame met Laevelder het hul jaarlikse liefdadigheidsgholfdag Vrydag by Mbombela Gholfklub aangebied.

Die baan was oudergewoonte volbespreek met 128 spelers wat dié dag se reputasie as een van die gewildste gholfdae op die kalender bevestig het.
Die 32 vierballe het in ‘n vierbalalliansie, scramble-formaat gespeel met die beste vier tellings wat in berekening gebring is.
Jaco Bouwer wat op die derde putjie die naaste aan die pen beland het, en sy spanmaats Gerrie van der Westhuizen, Franchoa Giliomee en Hannes Kock het met ‘n telling van 192 met die louere weggestap.
Die 13de putjie wat deur Laevelder beman is, het allerhande speletjies en ‘n geheimsinnige drankie aangebied, maar dit het geen invloed op Matts Blom se hou op die volgende putjie gehad nie.
Blom het op die 14de (498 meter) die bal die verste gemoker.
Niel Short, Matie Oosthuizen, Prof Mohahlo en Warren Schippers was tweede met ‘n telling van 179. Die vierbal van Marius Nel, Andeon Visagie, Hoffman en Jannie Maritz was kort op hul hakke met ‘n puntetelling van 177.
Al die spanne het egter op die 19de putjie vasgeval, waar ‘n heerlike geselligheid geniet is en uitblinkers vir hulle prestasies beloon is.
“Die opbrengs van die gholfdag word aan liefdadigheidsprojekte in die Mbombela- omgewing aangewend om ‘n verskil in minderbevoorregtes te lewens te maak. Ons sien met groot opgewondenheid na volgende jaar se gholfdag uit. Dankie aan elke borg, groot en klein! Die datum sal eersdaags deurgegee word,” het Johan Oosthuizen van Du Toit-Smuts & Vennote gesê.




















