Kinders van Komati ontdek hulle gholftalent
Sowat 80 leerlinge van Komatipoort Akademie het 'n groot liefde vir gholf ontwikkel nadat hulle vroeër die jaar aan die sport blootgestel is.
Gholflesse het sowat vyf maande terug by Komatipoort Akademie as ‘n uitbreiding van die gholfontwikkelingsprojek op Riverside-plaas naby Malalane begin. Dié projek is in 2013 deur die SA Gholfontwikkelingsraad tot stand gebring.
Juffrou Magda Stronkhorst is die koördineerder en afrigter en word bygestaan deur Edwin Compton wat privaat lesse by Kambaku Gholfklub bied.

Aan die begin van die jaar het sy al die kinders in Komatipoort Akademie getoets om te sien of hulle ‘n aanvoeling vir die sport het. Daarna is ‘n paar belowendes in Maart en April genooi om aan klasse deel te neem.
Daar is tans sowat 80 laerskool-kinders wat een keer per week vir ‘n uur lank in een van die vier ouderdomsgroepe ‘n gholfles ontvang.
Hulle gebruik plastiekstokke en tennisballe om by die skool te oefen en geniet hulle gate uit. Diegene wat dit kan bekostig of uitsonderlike talent toon, word na Compton verwys vir privaat lesse.
Stronkhorst vertel dat die kinders die sport baie geniet. Benewens die feit dat dit ‘n positiewe tydverdryf is, veroorsaak dit dat kinders meer tyd buite in die natuur spandeer. Hulle leer ook dissipline, respek en het ‘n nuwe waardering vir alles wat hulle het.
Sy is baie passievol oor haar jong leerlinge en vertel dat dit vir haar baie beteken om hulle te sien groei.
LEES: Komati se swemmers verbeter ses rekords
Op Sondag 9 September na kerk, het Stronkhorst by Kambaku Gholfklub ‘n toernooi vir haar leerlinge gereël. Sowat 70 kinders en 70 ouers en ondersteuners het deelgeneem. Verskeie kinders het vir die eerste keer in ‘n gholfkompetisie gespeel.
Stronkhorst se doel was om kinders en ouers die geleentheid te gee om tyd saam deur te bring.
Dit was baie pret en sy het soveel goeie terugvoer gekry dat sy hoop om nog ‘n paar kompetisies aan te bied.
