Lanie-swemmers stel sewe nuwe rekords op
Swem se gewildheid groei onder leerlinge van Laerskool Malelane en 'n hele paar het verlede Dinsdag tydens die skool se interne swemgala rekords verbeter.
Swemmers het sewe rekords tydens Laerskool Malelane se intergala verlede Dinsdag verbeter.
Die gewildheid van swem groei onder leerlinge, deels danksy die skool se ontwikkelingswemprogram, en meer as 100 swemmers het hierdie jaar deelgeneem.
Henning Radley het rekords in vry-, bors-, rugslag en medley verbeter. Janca Hattingh en De La Rey Radley het elk ‘n nuwe rekord in borsslag opgestel, terwyl Rossouw Janson dieselfde in vlinderslag gedoen het.
LEES: Komati se swemmers verbeter ses rekords
Swemafrigter en onderwyser Belinda Potgieter het vertel dat hulle hierdie jaar die gala anders benader het. Tydens liggaamlike opvoedingsperiodes het elke kind ‘n kans gekry om met ‘n bordjie ‘n lengte te swem. Onderwysers het belowende swemmers geïdentifiseer en hulle het twee weke voor die gala afrigting en oefening gekry.
Leerlinge wat aan die swemskool behoort oefen onder die toesig van ‘n afrigter en ‘n paar skoolafrigters help ook die res om hulle vaardighede te slyp.
Ouers verleen ook hulle ondersteuning aan die swem en onlangse opknappings en ‘n verhittingstoestel sorg dat leerlinge selfs in die wintermaande kan oefen.
Potgieter sê dat hulle met elke oefening die verbetering kon sien, veral by hulle Engelse leerlinge.
Die groep wat in swem belangstel is gewoonlik redelik klein, maar die onderwysers was aangenaam verras deur aantal Engelse leerlinge wat hierdie jaar deelgeneem het.
‘n Groot groep is ook tans deel van die ontwikkelingsprogram. Potgieter meen dat die resultate van die program beslis binne die volgende twee tot drie jaar gesien sal word.
Tydens die gala het die ontwikkeling-swemmers aan ‘n skopbordjieresies deelgeneem, wat baie suksesvol was en leerlinge help om meer selfvertroue in die water te bou. Potgieter was besonders trots op hulle vordering en deelname.
Aan die einde van die intergala is die topswemmers aangewys:
• Junior victor ludorum: Liam Tosen
• Junior victrix ludorum: Mieke van der Merwe
• Senior victor ludorum: Henning Radley
• Senior victrix ludorum: Janca Hattingh.
Die beste swemmers in elke item en ouderdomsgroep is vir die skool se swemspan gekies en gaan volgende kwartaal aan verskeie liga- en vriendskaplike galas deelneem.

