Gholfspelers raak sopnat ten bate van Komati Akademie
Die weer was op 20 Oktober nie juis ideaal vir 'n dag op die gholfbaan nie, maar dit het spelers geensins gekeer om 'n potjie gholf ten bate van Komatipoort Akademie se geldkas te speel nie.
Die koue en reën het gesorg dat dié spelers wat op 20 Oktober laaste by Komatipoort Akademie se gholfdag klaargemaak het, met sambrele moes speel en druipnat by Kambaku Gholfklub se klubhuis aangekom het.
Die dag is afgesluit met ‘n heerlike ete voorberei deur Pierre Pretorius en sy span, en ondanks die gure weer was die klubhuis gepak met gholfspelers en ondersteuners van die skool wat gesellig saamgekuier het.
Komatipoort Akademie se hoof, Ormond Lombard het die skoolbeheerraad, onderwysers en kantoorpersoneel, alle helpers, borge, sowel as die gemeenskap, vir hulle getroue en lojale ondersteuning bedank. “Sonder die gemeenskap is ons niks, die gemeenskap dra ons,” het hy benadruk.

Spelers het met groot pryse weggestap en ‘n veiling van wyn en vakansies het vir ‘n ekstra bedrag in die kas gesorg.
Die spel was ‘n vierbal-alliansie en die twee beste tellings per gat is in berekening gebring.
Die eerste plek is deur Marius Joubert, Nick Visser, Grant Wallet en Amrie Visser met 86 punte verower.
Danny en Wernich Cato met Brendon en Ben Jordaan was tweede met 85 punte.
Danie du Preez, Billy van Niekerk, Colin Pretorius en Natasha Broodryk het die derde plek behaal met 84 punte.
Stefan Kuhn, Magda en Theo Stronkhorst en Mel Stronkhorst was vierde met 83 punte.
Met dieselfde aantal punte het Rose Powell, Roenel Basson, Lizette Barnard en Shani Swanepoel die vyfde plek beklee.
