Pumas se Smith maak skoonskip
As die losskakel Chris Smith 'n kat was, was hy die gelukkigste een aangesien hy Vrydagaand by die iCollege Pumas se jaareindfunksie letterlik en figuurlik met al die room weg- gestap het.
MBOMBELA – Dié 24-jarige is as die Pumas se speler van die jaar aangewys en saam met die toekenning ry hy deesdae in ‘n splinternuwe Ford Figo rond.
Smith is ook as die speler wat die meeste punte deur die seisoen (189) aangeteken het; SuperSport-uitdaagtoernooi se speler van die jaar; Curriebeker-agterspeler van die jaar, Curriebekerspeler van die jaar asook SupaRugby-speler van die jaar, benoem.

Smith, wat nog vroeër vanjaar deel van 2018 se Varsitybeker-kampioene, Maties was en in Maart homself in die Laeveld gevestig het, sê dat hy dié toekennings glad nie verwag het nie.
“Ek het nie gedink om soveel wedstrydtyd te kry nie. Maar ek
het in elke kragmeting die geleentheid aangegryp en dit is ‘n voorreg om met soveel toekennings beloon te word. Ek wil volgende jaar weer deel van die span wees wat hopelik weer die SuperSport-uitdaagtoernooi se titel verdedig en ons mik om volgende jaar ‘n Curriebeker-halfeindstryd te haal,” het Smith gesê.
Smith is tot aan die einde van die 2019-seisoen by die Pumas gekontrakteer.
Kaptein van die span, Hennie Skorbinski, flank Nardus van der Walt en haker Frank Herne het besluit om hulle rugbystewels finaal op te hang. Beserings het die spelers genoodsaak om hulle span van langs die kantlyn af dop te hou.

