Stappers voltooi “kruistog” vir die bewusmaking van plaasmoorde
Die stappers het op 30 Desember hul roete voltooi.
MBOMBELA – “Die kruis oor Suid-Afrika is op 30 Desember 2018 om 07:25 voltooi.”
Dit is die boodskap van die ToekomsVonk Warrior Walk-span wat in 2017 van die noorde na die suide oor Suid-Afrika gestap het.
Tussen 10 en 30 Desember het hulle van die Botswana-grens in die weste van die land na die Mosambiek-grens in die ooste van die land gestap om hierdie metaforiese kruis oor die land te voltooi.

Van 26 tot 30 Desember was dit die Laeveld se beurt om die stappers te verwelkom toe hulle die lang pad tussen Alkmaar en Komatipoort aangedurf het.
“Die staptog is vir die bewusmaking van plaasmoorde regoor die land. Dit is begin deur Hendré Papenfus wat self ‘n slagoffer van ‘n plaasaanval was en dit oorleef het. Hy het gevoel die Here het dit op sy hart gedruk dat hy hierdie staptog moet aflê,”
vertel Amor Gerber, direkteur van ToekomsVonk.
Die Warrior Walk het vanjaar vir die eerste keer onder leiding van dié organisasie plaasgevind en die stappers het elke dag ongeveer 35 km afgelê.

LEES OOK: Nellies pronk met die jaar se beste sportpresteerders
“Hoewel dit nie die hoofdoel was nie, het ons ook fondse ingesamel wat ons gaan gebruik vir die beveiliging van plase regoor die land,” het Gerber gesê.
Volgens haar was die staptog ook ‘n huldeblyk aan almal wat in plaasaan-
valle gesterf het. ToekomsVonk is ‘n organisasie sonder winsbejag wat hulle beywer “om die man op die straat te help”.

Volgens Gerber is hulle doel om weer hoop te kweek en mense te help floreer. “Die enigste manier vir ons as ‘n groep om te kan oorleef, is om hande te vat en ‘n verskil te maak.”
Gerber sê dat hoewel die staptog ‘n onvergeetlike ervaring vir die stappers was, hulle baie dankbaar is om daarmee klaar en terug by die huis te wees.
LEES OOK: Jongelinge maak naam in Potch
