Lanies beïndruk met hulle spoed by interhuis
Laerskool Malelane se leerlinge het verlede Vrydag met groot geesdrif en ywer aan die skool se interhuis-atletiekbyeenkoms deelgeneem. Sommige atlete het met hul spoed beïndruk en gewys dat daar nog groot prestasies tydens die atletiekseisoen voorlê.
Die Kroonarende, met ‘n voorsprong van 287 punte, is vanjaar as die wenspan by Laerskool Malelane se interhuis aangewys.
Die leerlinge was Vrydagoggend in blou, wit en oranje uitgevat om as deel van die Kroonarende, Visarende en Berghane hulle plekke in die skool se atletiekspan te verwerf.
Nadat die dirigente met vrolike uitrustings hul spanne in ‘n paar krete gelei het, het talle atlete die gehoor se oë laat rek met puik tye tydens die baanitems.
Ander, wat nie so fiks was nie, het hulle deursettingsvermoë en goeie gees ten toon gestel.
LEES: Lanies hoor wie in 2018 die beste presteer het
Wenners van die onderskeie items het gedurende die dag met hul medaljes om die nek gepronk.
Juffrou Tersia Diederiks, wat hierdie jaar aftree, is met ‘n ruiker gelukgewens met haar 39ste interhuis by die skool en deur die leerlinge toegejuig.

Aan die einde van die byeenkoms is verskeie trofeë oorhandig en Sihle Mkhatshwa het ‘n hele paar ingepalm. Hy is as senior victor ludorum aangewys en het trofeë vir beste spronge, beste naelloper en beste hekkiesatleet gewen.

Siyanda Mdluli was die atleet van die byeenkoms en het die trofee vir beste worpe ontvang.
Ander trofeewenners was:
• Beste spronge en senior victrix ludorum:
Gift Khoza
• Beste worpe:
Joshua Janse van Vuuren
• Beste naelloper:
Qhawekazi Mkhatshwa
• Beste hekkiesatleet:
Mia van Staden
• Beste middelafstandatleet:
Janco Small en Abigaile Lourens
• Junior victor ludorum:
Luan Small
• Junior victrix ludorum:
Angela Shongwe.
Die skoolspan het nou net ‘n paar weke oor om vir die subkring- en kringbyeenkomste, asook die Panorama-interlaer by Laerskool Sabie op 15 Februarie voor te berei.

