Nellies laat die rekords spat by interhuis
Hoërskool Nelspruit se atlete het geskiedenis gemaak by die BUCO-interhuisbyeenkoms Dinsdag.

Benewens die bekende opwinding en bruisende Nellie-gees wat jaarliks kenmerkend aan Hoërskool Nelspruit se BUCO-interhuis is, het ‘n klompie sterre met uitmuntende prestasies, die skare Dinsdag laat regop sit.
In die proses het selfs ‘n huishoudelike rekord wat 41 jaar gelede (in 1978) opgestel is, in die slag gebly.

Rhodé Nel (o/16) het haar planne vir die nuwe seisoen met skitterende tye duidelik gemaak.
In die 200 m het sy die legendariese Marilise Weich se rekord van 25,80 s met ‘n puik wentyd van 25,72 s uit die rekordboeke gevee.
Rhodé se 100 m-tyd van 12,19 s is ook die tweede beste in die skool se 66-jarige bestaan, en ook in hierdie item, blyk Weich se 12,10 s op wankelrige bene te staan.
Rhodé se tyd was die beste prestasie onder die dogters se baanitems. Henco de Nysschen se 23,22 s in die 200 m vir seuns o/17 het aan hom die trofee besorg.
LEES OOK: Athletes shine ahead of Triple J
Nuweling Ashley Erasmus (o/14) se naam gaan nog baie by prysuitdelings gehoor word. Sy was vir die beste prestasie in velditems vir meisies verantwoordelik toe sy die skyfwerp met ‘n uitmuntende 36,58 m ingepalm het.
Dit het Shana Scott se vorige Nellie-rekord met bykans drie meter verbeter. Ashley het eweneens in gewigstoot uitgeblink, deur die 3 kg-ysterbal op ‘n ongelooflike 13,54 m te laat grondvat. Die vorige rekord was 11,87 m.

Die beste seunsatleet onder die velditems, Douw Kruger (o/17) het onder andere in gewigstoot geskitter met ‘n wenafstand van 16,65 m. Douw het sy afrigter se hart warm laat klop toe hy ‘n persoonlike beste van 62,06 m in spiesgooi behaal het. In skyfwerp het hy met ‘n reusegooi van 48,23 m ‘n vroeë uitdaging aan sy komende opponente gerig.

Die drie spanne het mekaar vanjaar soos selde tevore, opgekeil. Die eindtotale, wys duidelik hoe straf daar om die wennerstrofee meegeding is. Uiteindelik was dit die Spartane se spankapteins wat die gesogte trofee omhoog kon hou.

Hul totaal van 388 het die Atheners (357) en Trojane (315) getroef. Die opwinding het breekpunt bereik, toe aangekondig is dat die Spartane ook die 2019-wenners van die sangtrofee was.

Volgens tradisie, is ‘n Victor en Victrix Ludorum in elke ouderdomsgroep aangewys.
Die wenners was
Dogters Seuns
o/19: Dané Bruwer o/19: Devon Nell
o/17: Danika Meiring o/17: Douw Kruger
o/16: Rhodé Nel o/16: Keenan Visser
o/15: Larise Combrink o/15: Phillip Vogel
o/14: Ashley Erasmus o/14: Charles-Timon Nel

Benewens die genoemde prestasies, het ‘n hele paar ander atlete, die magiese 800-merk op die ABSA-tabel oorskry – ‘n baie goeie prestasie in die geweldige hitte. Hulle was:
Shanese de Clerq (o/14): hoogspring – 1,55 m (955)
Ruan Pretorius (o/14): hoogspring – 1,65 m (910)
Carla Schultz (o/15): hoogspring – 1,51 m (867)
Phillip Vogel (o/15): hoogspring – 1,70 m (864)
Ricardo Raubenheimer (o/15): hoogspring – 1,70 m (864)
Larise Combrink (o/15): verspring – 4,92 m (837)
Lize Oosthuizen (o/14): spiesgooi – 30,76 m (832)
Frederik Nel (o/16): gewigstoot – 14,42 m (823)
Mechiel Brink (o/15): hoogspring – 1,65 m (823)
Karl Ericson (o/14): hoogspring – 1,55 m (822)
Ruben Vorster (o/14): verspring – 5,06 m (817)

Die ongemaklike, uitmergelende hitte ten spyt, het talle ander vertonings, die atletiekliefhebbers gewis na ‘n meer as opwindende seisoen laat uitsien.

Hier is nog uithaler-vertonings
Janrico Vermeulen (o/19): gewigstoot – 13,50 m
Neil Henning (o/19): spiesgooi – 49,76 m
Jan van der Berg (o/17): skyfwerp – 41,33 m
Coben Putter (o/17): skyfwerp – 40,51 m
Zander van der Merwe (o/17): spiesgooi – 54,51 m
Megan du Plessis (o/17): verspring – 4,99 m
Lané Taljaard (o/16): 100 m hekkies – 16,62 s; hoogspring – 1,45 m
Shana Scott (o/16): skyfwerp – 31,63 m; spiesgooi – 30,39 m
Nicci Viljoen (o/16): 100 m – 12,90 s; 100 m hekkies – 15,85 s.
Berna Kok (o/16): 3 000 m – 11:49.03
Handré van der Merwe (o/15): 300 m hekkies – 41,99 s
Marco Capazorio (o/15): 100 m hekkies – 14,56 s
Karien Goosen (o/15): verspring – 4,75 m
Larise Combrink (o/15): 100 m – 13,12 s.
Shanese de Clerq (o/14) : 100 m – 13,34 s
Kristin Berry (o/14): 800 m – 2:28.10
SIEN OOK: FOTO’S: NHS se matrikulante skitter

