Vuurwarm aksie by NHS
'n Spoggeleentheid waartydens drie van die agt A-bondskole in vanjaar se NWU Super Interhoër in aksie was, insluitend twee van Pretoria se drie voorste atletiekskole, het die fynproewerdag by Hoërskool Nelspruit se jaarlikse vriendskaplike byeenkoms, met kookwateratletiek bederf.

NHS was die gasheer vir Prestige College en Afrikaans Hoër (seuns en meisies), asook die atlete van Ben Vorster (Tzaneen), Rob Ferreira en Lowveld High.
Die standaard was deurgaans van ‘n baie hoë gehalte en die Nellies het nie op hulle laat wag om met ‘n hele rits puik vertonings saam met Rob Ferreira se uitstekende naellopers en Lowveld High se gedugte sprongeatlete, te wys dat die Laeveld nie vir die stadsjapies hoef terug te staan nie.
Tussen Douw Kruger (seuns o/17), Ashley Erasmus (dogters o/14) en Shanese de Clerck (dogters o/14), is die 1 000-puntekerf op die strawwe ABSA-tabel gereeld beproef. Ashley se 36,26 m in skyfwerp (1 124 punte) was die beste deur ‘n plaaslike atleet. In gewigstoot was haar uitmuntende 14,18 m (nuwe NHS-rekord 1 088 punte werd) eweneens ‘n spoguitslag. Shanese het op ‘n pragtige 1,60 m oor die dwarslat geseil – ‘n ongelooflike hoogte vir ‘n gr. 8-atleet (1 011 punte).
Na ‘n (vir hom) beskeie 16,65 m (gewigstoot, seuns o/17) by die interhuis, het Douw die oë laat rek toe hy die 5 kg-gewig op ‘n yslike 18,08 m (1 035 punte) laat grondvat het. Dit is ‘n afstand van internasionale standaard wat van Douw gewis medaljemateriaal in enige groot byeenkoms ter wêreld sal maak.
Die volgende NHS-atlete spog met goud (eerste plekke) – ‘n uitsonderlike prestasie, gegewe die sterk mededinging (ABSA-punte bo 800 aangetoon):
• Jaytee Boers (seuns o/19) 1 500 m – 4:17,78
• Charles Nel (seuns o/14) 100 m-hekkies – 14,97 en 300 m-hekkies – 43,06
• Handré vd Merwe (seuns o/15) 300 m- hekkies – 41,35
• Janrico Vermeulen (seuns o/19) gewigstoot – 13,80 m
• Hannes Botha (seuns o/15) spiesgooi – 49,94 m
• Douw Kruger (seuns o/17) gewigstoot – 18,08 m (1 035), spiesgooi – 60,48 m (852) en skyfwerp – 47,37 m (817)
• Suzaan Nel (dogters o/17) 100 m – 12,25 (867 punte en nuwe Nellie-rekord)
• Rhodé Nel (dogters o/16) 400 m – 60,60
• Jessica Berry (dogters o/19) 1 500 m – 5:10,50
• Danielle Groenewald (dogters o/14) 300 m- hekkies – 51,12
• Shanese de Clerck (dogters o/14) hoogspring – 1,60 m (1 011) en verspring – 5,04 m (921)
• Lané Taljaard (dogters o/16) hoogspring – 1,53 m (835)
• Ashley Erasmus (dogters o/14) gewigstoot – 14,18 m (1 088) en skyfwerp – 36,26 m (1124)
• Dané Bruwer (dogtes o/19) gewigstoot – 9,09 m
• Shana Scott (doges o/16) skyfwerp – 33,65 m (nuwe Nellie-rekord)
Lize Oosthuizen (dogters o/14) spiesgooi – 30,76 m (832).
Nou verskuif die fokus na Pretoria, waar NHS se span Vrydag aan Affies se jaarlikse byeenkoms gaan deelneem, asook volgende week by Waterkloof. Sodoende kry die atlete waardevolle oefening op ‘n tartanbaan, asook uitstekende geleenthede om vir die komende interhoërbyeenkomste te slyp. Sterkte!
Hoërskool Rob Ferreira het ‘n allemintige 192 atlete na die geleenthied gestuur. “Die feit dat Rob 192 atlete na die byeenkoms geneem het, is voorwaar ‘n merkwaardige prestasie, veral as daar in ag geneem word dat die skool minder as 900 leerders het. Rob gaan deur die loop van die volgende vier weke aan vier groot byeenkomste deelneem en is van plan om vier atlete vir elke enkele item in te skryf,” het die skool se Liezel Lüneburg gesê.
Nkosana Mpinga het sommer vroeg in die seisoen reeds die 100 m vir seuns o/19 in 10,75 en die 200 m in 21,94 afgelê. Vuyo Ndlovu (o/17) het ‘n kortkop agter sy ouer spanmaat geëindig en dieselfde items in ‘n fantastiese 10,84 en 22,17 onderskeidelik kafgedraf.
Lowazi Mogodiri, ‘n lid van die o/16-seunspan het in beide die 100 m en
200 m uitgeblink. Sy beste item van die dag was egter verspring – hy het gewen met ‘n uitsonderlike sprong van 6,73 m wat hom 946 punte op die ABSA-tabel besorg het.
Spanmaat Junior Mondlane (o/16) het ‘n afstand van 6,57 m gespring, terwyl Thapelo Nkuna (o/17) 6,70 m ver gespring het. Thapelo het ook in die driesprong presteer met ‘n afstand van 13,79 m.
Die Robbies het die beste vir laaste gehou en die o/19-seuns het die skare op hul voete gehad met die 4×100 m-afloswedloop. Rob het die item met ‘n uitstekende 43,26 gewen met Affies en Prestige College kort op hul hakke.
