Local sportSport

Nellies gaan haal talle goue medaljes in Gauteng

'n Rekord wat 41 jaar gelede opgestel het, het in die proses in die slag gebly.

Dreigende onweer gevolg deur swaar reënbuie was verlede Vrydag aan die orde van die dag waar NHS in Pretoria aan Waterkloof se Dreyer Campbell-gedenkbyeenkoms deelgeneem het.

Desondanks, is uitmuntende prestasies gelewer en het die Nellies met 37 medaljes laatnag huiswaarts gekeer. Daar pryk vandag vyf blinknuwe byeenkomsrekords agter die Nelspruiters se name.

Al kon ‘n hele paar items (waaronder die kort-hekkies en verskeie velditems) nie plaasvind nie, is genoegsame bewys gelewer dat vanjaar se Super-Interhoër, prestasiegewys, een van die bestes in jare gaan wees.

Hoërskool Nelspruit se mededingers in Pretoria was Affies, Waterkloof, Kemptonpark, Tuks Sportskool, Grey College, Wynberg Boys High en Zwartkop Christian School.

Een van die groot hoogtepunte van die dag was die naelbyt 4×100 meter-aflos vir meisies o/16. NHS se Rhodé Nel, Jana Engelbrecht, Nicolize Aucamp en Nicci Viljoen het met ‘n uitstekende 49,60 sek. korte mette gemaak van die huishoudelike rekord wat 41 jaar gelede (1978) in die dae van die bekende Marelise Weich (50,6) opgestel is. Die Nellies het in die proses vir Waterkloof (51,10) en Afrikaans Hoër Meisies (52,00) hakskene gewys. Hulle wentyd is ook ‘n nuwe byeenkomsrekord.

Kragman Douw Kruger (o/17) het eweneens vir ‘n grootse prestasie gesorg toe hy Springbok-atleet Kyle Blignaut se 2016-rekord in gewigstoot (18,54 m) met ‘n reuse poging van 18,59 meter oortref het. Spanmaat Andreas van Heerden het die 3 000 meter-rekord (vir seuns o/19) sy eie gemaak toe hy in ‘n persoonlike beste van 9:01,10 oor die wenstreep gebars het.

Nog ‘n rekord wat deur ‘n Nellie verbeter is, was die 200 meter vir meisies o/16. Rhodé Nel se tyd van 25.40 is ook beter as haar eie Nellie-rekord (25,71) wat sy die vorige week opgestel het. Haar 100 meter-tyd van 12,30 het die bestaande byeenkomsrekord geëwenaar.

Ook Ashley Erasmus (meisies o/14) was weer op haar stukke, toe sy die rekord in skyfwerp na ‘n pragtige 35,92 meter opgeskuif het.

Die volgende Laevelders het podiumplekke (medaljes) verwerf:
Eerste plekke (goud)
• Jaytee Boers (seuns o/19): 800 m – 1:57.70 (843 ABSA-punte), ook 1 500 m – 4:08,40
• Douw Kruger (seuns o/17): gewigstoot – 18,59 m (1 080), ook skyfwerp – 51,61 m (910)
• Andreas van Heerden (seuns o/19): 3 000 m – 9:01,10
• Rhodé Nel (meisies 0/16): 200 m – 25,40 (902), ook 400 m – 57,40 (906)
• La-Alicia Venter (meisies o/15): gewigstoot – 11,71 m (844)
• Ashley Erasmus (meisies o/4): skyfwerp – 35,92 m (1 106)
• Lize Oosthuizen (meisies o/14): spiesgooi – 32,68 m (898) *Nellie-rekord 4×100 m-aflos, meisies o/16: 49,60 sek.

Anglers bag the big ones at LBT#1

Laeveld gereed vir interlaer

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Stefan de Villiers

Stefan de Villiers, based in Mbombela, Mpumalanga, is currently the Editor at Lowvelder. He brings a wealth of knowledge and experience from previous roles at Lowveld Media, such as Sports Editor, Journalist and Photographer. He started on November 1, 2013.
Back to top button