Lanies laat atletiektalent skitter by vriendskaplike byeenkoms
Plaaslike atlete het Saterdag tydens 'n vriendskaplike atletiekbyeenkoms by Laerskool Malelane bewys dat hulle 'n goeie kans staan om medaljes en trofeë by hierdie jaar se Panorama Interlaer in te palm.
Verskeie van Laerskool Malelane se leerlinge het Saterdag tydens die skool se jaarlikse vriendskaplike atletiekbyeenkoms onder die topatlete getel.
Sihle Mkhatshwa was een van die uitblinkers en is as senior victor ludorum en beste hekkiesatleet (seuns) aangewys.
Die Lanies se span het met atlete van Komatipoort Akademie, Laerskool Lydenburg en Barberton meegeding.
Laerskool Lydenburg is as die dag se wenners aangewys en die skool se Kolene Coetzee is as die atleet van die byeenkoms aangewys. Sy het ook die trofee vir beste worpe (dogters) ontvang, wat sy met Chanlee Landsberg deel.
Die ander trofeewenners was
• Junior victor ludorum: Morné van Wyk
• Junior victrix ludorum: Thatego Masotho
• Senior victrix ludorum: Jessica Coetser
• Beste spronge (dogters): Gift Silinda
• Beste worpe (seuns): Robroy MacGregor
• Beste naellopers: Morné van Wyk en Jessica Coetser
• Beste hekkies (dogters): Karabo Ndwandwe
• Beste middelafstandsatlete: Hendré Venter en Elzané Smith.
Dié jaarlikse byeenkoms het die atletiekspanne ‘n ekstra geleentheid gebied om te sien hoe hulle in ‘n mededingende omgewing vaar en om vir die Interlaer te oefen. Weens die reënweer is die Panorama Interlaer, wat môre (Vrydag) in Sabie aangebied sou word, uitgestel na Dinsdag.
LEES oor verlede jaar se interlaer: Lanies lig die wen-trofee by Panorama Interlaer
Skoolspanne het nie baie kanse om saam aan kompetisies deel te neem en hul vaardighede te slyp nie, aangesien slegs individue na distriks- en provinsiale byeenkomste deurdring.
LEES: Lanies beïndruk met hulle spoed by interhuis
Die omgewing se topatlete het juis Dinsdag aan distriksatletiek in Hazyview deelgeneem en die toppresteerders sal na die provinsiale kampioenskappe in Secunda op 23 Februarie genooi word.















