Komaties verwerf 34 medaljes by Interhoër
Komatipoort Akademie se hoërskoolatlete het Saterdag in Hendrina puik presteer en die skool 'n totaal van 34 medaljes besorg.
Komatipoort Akademie se atlete het Saterdag ‘n allamintige 34 medaljes by die jaarlikse interhoër verwerf.
Die span het altesaam 16 goue, vier silwer- en 14 bronsmedaljes vir ‘n algehele vierde plek ingepalm.
Die byeenkoms is deur die Gekombineerde Skool Hendrina aangebied en die Komaties se sportorganiseerder Ulrich Prinsloo was vol lof vir die puik organisering van die dag.
LEES oor verlede jaar se interhoër: Komaties verwerf 23 medaljes by hierdie jaar se interhoër
Die Komaties het teen die gasheerskool, Morgenzon Landbou Akademie, Hoërskool Sybrand van Niekerk, Carolina Akademiese Skool, Gekombineerde Skool Balfour, Belfast Akademie, Groblersdal Academy, Hoërskool Reynopark en Highveld Park High School te staan gekom.
Die bewolktheid het vir ‘n paar reëndruppels gesorg en atlete het behoorlik geblom in die heerlike weer.
Hulle het puik gevaar en selfs ‘n paar trofeë ingepalm. Charlese van Staden is as die beste dogtersatleet in verspring en hoogspring, asook die junior victrix ludorum aangewys. Aubrey van der Bank was die beste seunsatleet in gewigstoot en spiesgooi. Hy het ook ‘n nuwe spiesgooirekord danksy ‘n afstand van 56,58 meter opgestel.
LEES: Komaties pak interhuis met ywer aan
Die Komaties se laerskoolleerlinge het ook Dinsdag puik gevaar by die Panorama Interlaer in Sabie en die prestasiebeker gewen.



